Iran olietenkskip word losgelaat

Die olietenkskip van Iran wat vir weke in Gibraltar aangehou is, het uiteindelik sy tog hervat en is onderweg na Griekeland.

Die tenkskip se vertrek is met dae vertraag weens die VSA se poging om te verhoed dat dit vrygelaat word, maar die owerheid in Gibraltar het Amerika se aanspraak van die hand gewys.

Die Grace 1 wat onder die vlag van Iran vaar, is verhinder om verby Gibraltar te gaan weens die vermoede dat dit onderweg is na Sirië, wat tans met sanksies deur die Verenigde Nasies, verbied word om olie te bekom.

Die vermoede bestaan dat die besending olie in die skip later aan Griekeland verkwansel is dur die owerheid van Iran.

Die skip is deur die Britse Vloot voorgekeer en is daarop beslag gelê nadat Iran op ’n tenkskip beslag gelê het wat onder die Britse vlag vaar en na bewering in Iran se seegebied was.

Na verwagting sal Iran nou die Britse vaartuig vrylaat.