Eskom sal nie gou herstel

Die mikpunt wat deur die ANC regime gestel is dat Eskom se omkeer binne 18 maande moet plaasvind, is onrealisties en ’n teken van onkunde en oor optimisme.

Dit is die mening van kenners wat sê die Eskom gemors gaan baie jare neem voor ’n omdraai punt bereik word, en dan is die voorwaarde dat bekwame, goed opgeleide bestuurspan die voortou neem.

Die regering verwag dat Eskom sy huis in orde moet kry in die volgende 18 maande, maar deskundiges reken dit is nie haalbaar nie, en die regeerders gaan moontlik ’n groot skok kry in stede van herstel.

Meningsvormers sê die regering probeer sulke verwagtinge skep met die hoop dat wonderwerke gebeur, terwyl die moontlikheid van nog verdere agteruitgang dalk die voorland is indien die regte bestuurspan nie in beheer is nie.

Finansiële deskundiges wys daarop dat Eskom vanjaar R20.7 miljard verlies getoon het teenoor die vorige finansiële jaar se R2,3 miljard, wat die indruk laat dat die kragvoorsiener elke jaar swakker vaar.