Eerbaarheid

Gedurende die afgelope maande is die nuus oorheers deur berigte en gerugte van oneerlike optrede deur diegene wat veronderstel is om ’n voorbeeld van eerbaarheid te stel.

Die Openbare Beskermer, wat veronderstel is om die oneerlike optrede van politici uit te wys en aan die man te bring, is klaarblyklik self nie te eerlik nie, en word verskeie beskuldigings teen haar ingebring waarvan meineed seker die heel belangrikste aanklag is.

Die land s president, wat deur menige naïewe Afrikaner beskou is as ’n persoon wat ’n omkeer in die verval kan bewerkstellig, het selfs sy eie partylede laat frons toe dit bekend geword het dat hy die parlementslede mislei het oor geld in sy bankrekening wat tot hede nie mooi verduidelik is nie.

Selfs die minister wat beskuldig word dat hy onregmatig opgetree het deur pensioen uitbetaling goed te keur, het talle mense laat wonder of daar nog ’n eerbare lid van die regerende party is in die parlement.

Sonder om dramatiese vergelykings te tref, hunker die Afrikanerdom terug na politieke leiers van die verlede wat met eerbaarheid hulle kiesers se vertroue behou het.

Die eenvoudigste voorbeeld is waarskynlik ’n minister van weleer wat ’n vergadering gehou het op ’n plattelandse dorp, waar hy ’n koedoe wat spesiaal vir hom geskiet is, nie in sy ampsmotor toegelaat het nie, maar later met sy eie motor die afstand gery het om die geskenk te ontvang.

Die Woord leer immers dat wie met die kleiner dinge getrou is, geroep word tot die groter saak. Dit het die grootste klomp van Suid-Afrika se politici blykbaar nog nie geleer nie, en so lank dit so is, so lank sal die land gebuk gaan onder die oneerbare handelinge van hulle wat die voorbeeld moes stel van skoon administrasie.