Waterbesoedeling word nasionale krisis

Water wat besoedel word op verskillende maniere, is een van Suid-Afrika se grootste gevare vir ’n algehele ramp wat wag om te gebeur.

Dit is die mening van ’n kenner in water bewaring en gehalte bestuur wat aan Die Vryburger gesê het die Minister van Waterwese is te lig gevind vir die enorme taak om ’n vinnige en doeltreffende ommekeer te maak met waterbestuur in die land.

Hy sê die besoedeling wat veroorsaak word deur mynhuise, wat nou reeds twee dekades lank weg kom met hulle onverantwoordelike hantering van waterbronne, asook die talle munisipaliteite wat nie hulle suiweringsaanleg in stand hou nie, bedreig die gesondheid van miljoene mense in die land.

Die vreemde optrede van die owerheid om die toedrag van sake stilswygend toe te laat, is ’n vingerwysing na die betrokke minister wat uit die pos ontruim moet word en aangekla behoort te word van vergiftiging van die ganse bevolking.

Die mening is uitgespreek dat die waterbesoedeling nou ’n nasionale krisis geword het, en enige beskaafde land sal in sulke omstandighede ’n noodtoestand verklaar, is gesê.