Vreugde onder politici in Brasilië

Tydens die Brasiliaanse verkiesingsveldtog vroeër vanjaar, het die nasionalistiese President Jair Bolsonaro beloof om die pensioenstelsel van die land te hervorm, en dit was een van sy hoof temas in toesprake.

Alhoewel die opposisielede gehoop het dat sy hervorming daarvan nie goedgekeur sou word nie, het die Laer Huis dit wel goedgekeur met ’n oorweldigende meerderheid.

’n Groot gejuig het in die parlement opgegaan toe die uitslag bekend gemaak is en die wetsontwerp goedgekeur is met 379 ten gunste en 131 stemme daarteen.

Politieke ontleders sê dit is een van President Bolsonaro se eerste, en waarskynlik sy grootste oorwinning in die kort tyd van sy bewind.

Die wetgewing vorm del van die president se algehele hervorming van Brasilie op ekonomiese gebied, en die hoop is uitgespreek dat die Hoër Huis ook die voorstelle sal goedkeur om dit dan maklik te maak vir die Senaat om sy stempel daarop te sit.