Protes in Moskou oor stemreg

Die polisie in die Russiese hoofstad Moskou het minstens 25 protesteerders gevange geneem tydens die naweek se protes optog waar duisende inwoners hulle beswaar wou aanteken teen die verbod op opposisieparty leiers.

Die opposisieparty se besware teen die Russiese president, Vladimir Poetin, volg nadat gerugte die rondte gedoen het dat kandidate van die opposisie verban gaan word voor die volgende verkiesing.

Ilya Yashin, ’n leier van die opposisieparty het duisende ondersteuners toegespreek tydens die optog wat gehou is voor die verkiesing in Moskou Stad se parlementêre streek.

Die ontevredenheid het opgevlam toe die Verkiesingskommissie in Moskou verklaar het dat die grootste aantal kandidate van die opposisie nie daarin kon slaag om die vereiste aantal handtekeninge te kry voor die keerdatum nie.

Die Kommissie moet nou di naamlys van kandidate bekendmaak wat op 8 September kan deelneem aan die 45 setel parlement van Moskou.

Verteenwoordigers van die Verkiesingskommissie sê baie van die handtekeninge wat ingehandig is, is gekonkel en word as bedrog gesien.