Perspektief: Nasionalisme – die enigste beginsel-begronde keuse

Dit is belangrik om te onderskei tussen regeringsvorme, en die ideologiese onderbou waarvolgens ons ons toekomstige volkstaat behoort te rig.

Met ‘n beginselvaste onderbou, is die regeringsvorm van minder belang.

Die werklikheid in ‘n gevalle wêreld is dat owerheidsgesag (regeringsvorme) ‘n noodsaak is, om die selfgelding van (sondige) individue aan bande te lê, ter wille van orde en die gemeenskaplike welstand.

Daar is dus ruimte vir uiteenlopende regeringsvorme; sekere is ooglopend sonder beginsel, of afgestem op oorheersing (hetsy uitdruklik, of by implikasie) en ander bied onvoldoende beskerming teen gewetenlose manipuleerders.

Maar die suiwere onderbou egter eerste aandag geniet:

Burgerlike regering (owerheid) is ingestel deur God, ter wille van orde;

die spesifieke vorm is egter nie vasgestel nie en is dus die bron van geskiedkundige ontwikkeling.

Die mees suiwere onderbou is te vinde in die nasionalisme: “volksliefde”.

Dit spruit direk uit die skeppings-orde van volke en taalgroepe, elkeen uniek in sy skeppings-verskeidenheid, elkeen met tyd en ruimte (‘n eie land) binne die raadsplan-verloop van die wêreldgeskiedenis.

Terwyl baie (valse en verdraaide) besware teen nasionalisme ingebring word, versuim die liberaal-humanistiese dampkring om te erken dat waar nasionalisme ontaard het in die geskiedenis, dit ontaard het weens onregmatige toepassing en eiegeregtige gedrag van individue en groepe, wesentlik in opstand te orde.

Nasionalisme is geanker in liefde:

liefde vir die eie, liefde vir die eie geskoei op die suiwer verstaan van God se skeppings orde.

Dit is ‘n volksliefde wat ook ander húl eie ruimte toelaat om as onderskeibare volke te bestaan, te werk, te bewaar … of nie.

In ons volksgeskiedenis leer ken ons dit as die Christelik-nasionale begronding vir ons samelewing: dit het gestrek oor elke lewensterrein – die sosiale, die onderwys en opvoeding, die reëling van direk-verteenwoordigde volksregering.

Meeste mense is voorstanders van demokrasie: hierdie regeringsvorm gee inderdaad ‘n redelike platform vir openbare deelname, MITS dit gebou word op ‘n Christelik-nasionale onderbou van beginsel, volksliefde en onbaatsugtige diens.

(ons sal in ons volgende rubriek op regeringsvorme fokus)

Die ander keuses vir staatkundige onderbou is in wese vreemd aan die Skrifbeginsels van orde, rentmeesterskap en dienswilligheid.

Ongebonde (volk-lose) inklusiwiteit is niks nuut nie: reeds die ou-Testamentiese nasie-ryke staan in die teken van opstand teen ordelike volks-naasbestaan, en setel in magsug – reeds sedert die toring van Babel op die vlakte Sinear, tot die opeenvolgende antieke magsryke van Egipte, Assirië en Babel (onder die Chaldeërs), die Perse, Grieke en Romeine van die klassieke era.

Sosialisme is in wese geskoei op ‘n sluwe manipulasie van mense se luiheid en gemaksug; dit verabsoluteer spoedig tot inhalige ondermyning van ‘n gesonde arbeids-etiek, en wanorde gee uiteindelik aanleiding tot tirannie.

Koningshuise het deur magsug en self-verheffing (nieteenstaande suiwere instelling) verval in strukture van selfverrykende onderdrukking, eerder as die bedoelde “regeer deur voorbeeld” waarvan ons leer.

Vandag verkondig die liberaal-humanistiese dampkring “demokrasie” sonder beginsel-onderbou – dit is egter bloot ‘n post-moderne vorm van die eertydse nasie-ryke wat herleef in opstand teen God se orde en eise van rentmeesterskap en dienswilligheid.

Daarom: ook staatkundige herstel begin by die gereformeerde antwoord op die Quo Vadis-vraag:

terugkeer na die geloofs-grondslae van ons voorsate sal ons in staat stel om, menslik gesproke, weer die juwele van gesonde volksliefde te her-ontdek.

Dít sal ons in staat stel om die Christelik-nasionale grondslag te lê waarop ‘n effektiewe, en deelnemende volks-demokrasie gevestig kan word.

Daarmee kan ons begin bou aan ons volkstaat – ‘n volkstaat waarbinne elkeen en alles gerig word in dankbare erkentlikheid vir die voorregte van ‘n eie volk, binne ‘n eie land – waar ons weer eenmaal ‘n volk tot eer van God kan wees.