Motor rubriek – Suzuki Ciaz 1.5 GLX MT

Suzuki is besig om van krag tot krag te gaan en hulle sukses is toe te skryf daaraan dat die ingenieurs aldaar deeglike beplanning doen. So ook die verspreiders van Suzuki. Wanneer met kliënte gesels word, kan hulle nie uitgepraat raak oor die goeie diens wat gelewer word nie.

Die heel nuutste Suzuki Ciaz ding mee in ‘n afdeling in die motor mark waar kwaliteit ‘n hoë waarde het en wanneer die Ciaz van voor af genader word, is die eerste indrukke blywend. Die sierrooster wat direk onder die enjinkap begin trek dadelik die aandag. Die chroom versier stroke rondom die kolligte, die chroom versier stroke om die sierrooster en wat by die hoofligte aansluit en die bekende “S” embleem, rond die prentjie netjies af. Wanneer die enjinkap oopgemaak word is daar ‘n nuwe dwarsgemonteerde, 1,5 liter, vier silinder kragbron sigbaar. Hierdie kragbron se brandstof toevoer geskied bywyse van ‘n elektroniese brandstof inspuitstelsel en die maksimum krag is 77 kW en die rooi lyn op die toereteller begin by 6300 o.p.m. terwyl die wringkrag 138 Nm is en dit is beskikbaar teen 4400 o.p.m. Dit stel die Ciaz instaat om, volgens ingeligte bronne te versnel van 0 tot 100 km/u in 10,3 sekondes terwyl die maksimum snelheid 185 km/u is.’n Vyfspoed hand ratkas hanteer die krag oorbrenging na die voorwiele en die vyfde rat kan gesien word as ‘n snelrat.

Langs die kant is daar ‘n gedeelte van die bakwerk wat uitgebou is om dit te versterk en die deur handvatsels is in hierdie strook ingebou. Die 16 duim allooi wielnawe waarop 195/55 R16 Goodyear Assurance bande gepas, is sorg dat die syaansig ‘n eenheid vorm met die wielboë wat die wiele huisves.

Aan die agterkant vorm die agterligte deel van die kattebak deksel en ook deel van die bakwerk terwyl daar aan die onderkant op elke hoek ‘n rooi lig met chroom versiering om, die prentjie voltooi. Wanneer die kattebak deksel oopgemaak word, is daar 424 liter beskikbaar om bagasie te neem en bagasie kan met min moeite gelaai word.

Wanneer daar in die motor ingeklim word, is die eerste indrukke blywend. Alhoewel die afwerking nie hiper modern is nie, is dit deeglik gedoen en voel jy dadelik tuis. Die instrumente is regvoor die bestuurder gemonteer en duidelik leesbaar deur die boonste gedeelte van die stuurwiel. Vir die bestuurder en die voorste passasier is daar meer as genoeg plek en met die bestuurder se sitplek wat verstelbaar is, is dit nie moeilik om ‘n gemaklike sitposisie in te neem nie. Vir die agterste passasiers is daar beenspasie van 806 mm en kopspasie is meer as genoeg. Die stuurwiel het elektriese ondersteuning en op die pad reageer dit gemaklik op al die “bevele” wat van die bestuurder af kom. Soos met al die ander Suzuki produkte is die padhouvermoë van hoogstaande gehalte. MacPherson stutte met spiraalvere en skokbrekers word voor gebruik en op die agterste suspensie word gebruik gemaak van ‘n wringstaaf, spiraalvere en skokbrekers.

Al die toerusting is binne maklike bereikbare afstand en die rathefboom pas gerieflik in die linkerhandse palm. Die aanraakskerm en spoedbeheer is van die toerusting wat gemonteer is en op die stuurwiel is daar ‘n verskeidenheid van skakelaars aangebring wat van die toerusting beheer.

Om die motor tot stilstand te bring word daar gebruik gemaak van 252 mm geventileerde remskywe op die voorwiele en 200 mm trommels op die agterwiele. ABS remme met EBD en EBA ondersteuning verrig die werk om die voertuig te rem.

Op hierdie vlak is daar verskeie ander Duitse en Japanese produkte beskikbaar maar dit is ‘n motor om in gedagte te hou wanneer ‘n aankoop lys vir ‘n motor opgestel word en kan u gerus u naaste Suzuki handelaar gaan besoek, sou u ‘n motor wou aanskaf.