Motor rubriek – Lexus UX 250h

In die sportnuts motorwêreld is die kompetisie straf maar Toyota ingenieurs laat hulle nie afskrik nie. Inteendeel vir hulle is dit ‘n uitdaging en die UX 250h kan ons van verseker wees dat dit nog ‘n sukses verhaal gaan wees.

UX is die afkorting wat gebruik word vir Urban Crossover en die Lexus is op dieselfde Toyota onderstel gemonteer as die C-HR en die fisiese grootte is ongeveer dieselfde as die Kia Sportage. Daar is twee modelle beskikbaar naamlik die UX 200s en dan die UX 250h. Dit is die ideale voertuig vir alle omstandighede en sal dus nie die bestuurder van ‘n besigheid of die boer op ‘n plaas in ‘n swak lig stel nie.

In hierdie motor word tegnologie van ‘n hoë standaard ingespan en dit is ‘n mengsel van meganies en elektriese tegnologie wat hierdie motor aandryf. Wat interessant is is dat die batterye van hierdie voertuig gelaai word terwyl die motor op die pad en aan die beweeg is. Die eerste elektriese aandryf motor wat bekend staan as die MG-1 bring die motor in beweging en dit verskaf 216 volt en 24 kW. Die tweede motor staan bekend as MG-2 en sodra die motor aan die beweeg is skakel dit in by die Toyota M20A-FXS, vier silinder, petrol aangedrewe, 1987 kub. sentimeter, 16 klep, dubbel oorhoofse nokas, Atkinson Cycle kragbron in wat die werk dan verder verrig. Die meganiese kragbron verskaf 180 Nm wringkrag teen 4400 o.p.m. en krag van 107 kW teen 6000 o.p.m.

Die kombinasie van meganies en elektriese kragbronne stel die lexus instaat om die motor te laat versnel van 0 tot 100 km/u in ongeveer 8,5 sekondes met ‘n maksimum snelheid van 177 km/u. Na verneem word is die brandstofverbruik 6,3 l/100 km en dit is a.g.v. die kombinasie van meganiese en elektriese aandryf stelsels wat sorg dat die doeltreffendheid verbeter.

‘n Ratkas wat bekend staan as die e-CVT word ingespan om die krag oorbrenging te doen na die wiele. Die vorige ratkas het gebruik gemaak van dryfbande terwyl daar in hierdie ratkas ‘n ratstelsel ingespan word. Persoonlik is ek nie ‘n groot voorstander van dryfbande nie.

Wat die afwerking van die motor aanbetref is daar bykans geen kritiek te lewer nie. Die buite aansig van voor met die besonderse sierrooster, LED hoofligte, kolligte, die luginlate, laat ‘n gunstige indruk van dinamika. Beweeg ‘n mens om die motor is die indrukke wat die 18 duim allooi wielnawe skep blywend. 225/50 R Gen-2run-flat bande is gepas en dit is bande wat ‘n mens tydelik uit die moeilikheid kan help wanneer ‘n band lug verloor.

Aan die agterkant sorg die geronde afwerking dat stof die minimum op die agterste deksel vergader. Wanneer die deksel oopgemaak word is daar 265 liter laaiplek beskikbaar. Dit sonder dat die sitplek leunings platgevou is. Die agterligte is aan mekaar verbind met ‘n dun rooi afwerking tussenin en dit vou om die hoeke van die bak en is duidelik sigbaar vir verkeer wat die voertuig van die kant af nader.

Binne-afwerking is van hoogstaande gehalte. Die bestuurder en die voorste passasier se sitplekke is elektries verstelbaar en die nodige ondersteuning word op alle plekke aan ‘n insittende se liggaam gebied. Op die stuurwiel is daar skakelaars aangebring wat toerusting mee beheer kan word en alle toerusting is binne maklike bereikbare afstand van die bestuurder. Die veiligheidsaspekte is nie agterweë gelaat nie. Daar is agt lugsakke gepas en nie ses soos in die verlede nie. Daar is gesorg vir vermaak en daar word 13 luidsprekers gebruik vir die Mark Levinson radio, ‘n banddruk monitering stelsel is in plek, elke venster word elektries oop en toe gemaak, verhitting en verkoeling vir die voorste sitplekke is gepas, voor-botsing voorkoming stelsel is gepas en wanneer ‘n botsing wel plaasvind word die brandstof toevoer na die enjin onmiddellik afgeskakel.

Bogenoemde is nie die enigste toerusting wat gepas is nie. Daar is ‘n elle lange lys van toerusting en die aangewese optrede is om u naaste Toyota handelaar te gaan besoek en u te gaan vergewis van die ware toedrag van sake. Hierdie voertuig is een van my persoonlike keuses en ek sal graag my bankbestuurder beter wil ken!!!!!