Maduro regime laat talle uit tronke

Waarnemers is bekommerd dat die diktator van Venezuela met ’n nuwe spel besig is om Westerse lande te mislei en daarmee die sanksies teen sy land opgehef te kry.

Anders as wat verwag is, het Venezuela 22 prominente persone uit die tronke vrygelaat waarvan een regter en ’n bekende joernalis is.

Regter Maria Afiuni en die joernalis Braulio Jatar van die land is volgens ’n woordvoerder van die Verenigde Nasies verlede Vrydag vrygelaat na etlike maande in aanhouding.

Twintig studente is ook vrygelaat na die klaarblyklike druk van die Verenigde Nasies se Menseregte agentskap op die omstrede diktator, president Nicolas Maduro se regering.

Weens die druk is 62 mense ’n maand gelede vrygelaat wat na bewering onregmatig in tronke aangehou is, en waarnemers beweer dat nog meer mense later vrygelaat sal word.