Iran: uraan verryking kan oorlog ontbrand

Die geskil met Iran is tans nog net ’n woordestryd tussen Iran en talle Westerse lande, maar dit kan uitkring tot ’n oorlog waarvan die einde onvoorspelbaar is.

Dit is die mening van ’n politieke ontleder en kenner van die krisis wat ontstaan het tussen die Midde-Oosterse land en die Verenigde State van Amerika.

Hy wys daarop dat die gevaar bestaan dat Westerse lande nie gedwee gaan toekyk dat Iran voortgaan om die kernkrag ooreenkoms te verbreek nie.

Iran het die afgelope week gesê hy sal voortaan 5% meer verrykte uraan produseer as wat in die ooreenkoms vervat is, en sal dit doen om die verhoogde vraag na elektrisiteit aan te spreek.

Verskeie lande het Iran gewaarsku om nie die ooreenkoms te verbreek met hoër produksie as waaroor akkoord bereik is nie, en President Donald Trump het gesê Iran “speel met vuur”.