Dit is geen demokrasie

Die hewige stryd tussen ANC lede van die parlement en die Openbare Beskermer het ’n magstryd geword wat nog lank nie verby is nie, ongeag wat die howe se beslissings sal wees.

Die toekenning van miljoene rand as goue handdruk vir die munisipale bestuurder van Pretoria se metro raad, is maar net nog ’n korrupsie geval wat ongesiens sal verbygaan as die omstrede Openbare Beskermer nie korrek intree en optree nie.

Die deurlopende magstryd het ’n besliste nadelige invloed op buitelandse regerings en potensiële beleggers, en dit verklaar waarom die groot aankondiging van die president etlike maande gelede, ’n ongeloofwaardige klomp beloftes is wat nie realiseer nie.

Hierteenoor kan sonder vrees vir teenspraak gesê word dat die belofte van baie werksgeleenthede net die omgekeerde is want duisende werksgeleenthede het intussen verlore gegaan.

Die finansiële krisis met die tekort van R120 miljard wat die tesourie ondervind waarvan die helfte in die beurs van die kragvoorsieners beland het, laat die land wankel op ’n massiewe hoe afgrond.

Voeg hierby die gulsige grondgrypers wat klaarblyklik net kan leef as hulle kan kry sonder om daarvoor te werk, dan sien ons hoe die tweede Robert Mugabe se stelsel besig is om te ontplooi.

Dit is hierdie optrede in Suid-Afrika wat besing word as die wonderlike demokrasie met die pragtige grondwet – wat alles suiwer politieke gulsigheid is wat deur die wêreld buite Suid-Afrika geglo word.

Die 1994 oorgawe deur die vêr linkse Afrikaners is as een wonderlike gebeurtenis in belang van die demokrasie gesien en tientalle buitelandse leiers het saamgestem die destydse hensopper ’n halwe Nobel prys verdien.

Die Vryburger verag die misleiding en oorgawe wat in 1994 ’n eerbare volk van sy vryheid beroof het.