Die onvermoë

Suid-Afrika is nou die Nuwe Suid-Afrika, met ’n wonderlike grondwet, en ’n pragtige demokrasie, en met al die pragstukke van die land nogtans uitmekaar, en dit laat vrae ontstaan waarop min mense sal waag om antwoord te verstrek.

Sonder om elke staatsdepartement in hierdie kolom onder die loep te neem, kan redes gesoek word vir die verval in ’n paar verskillende sektore.

Die koms van die Ruwe Suid-Afrika het met een saak nie rekening gehou nie – naamlik die onvermoë van mense wat ’n saak moet dryf sonder die kundigheid daarvoor om selfs die nodige instandhouding van alles te bemeester.

In die onderwys geledere vra almal vir meer skole wat opgerig moet word om die derduisende kinders te akkommodeer, maar na 25 jaar van bewind is daar steeds nie probeer om genoeg swart onderwysers te lewer wat bekwame onderrig kan bied nie.

Die onvermoë om die land se skaars waterbronne doeltreffend te bestuur het reeds krisis afmetings aangeneem, bloot omdat “bevoordeling” in senior poste die vereiste geword het en nie bekwaamheid van mense nie.

Die fiasko van ’n Eskom wat so skuld belaai is dat dit nimmer gaan herstel onder die huidige stelsels nie, kom van onvermoë om goed opgeleide mense regoor al die personeel vlakke, in die werkplek aan te stel. Dit is nie net die korruptes en die swak bestuurders wat alles opmors nie, dit is die “baantjies vir boeties” wat alles in duie laat stort.

Die onvermoë kom ook na vore as die miljarde rand se skuldlas in byna elke staats entiteit in aanmerking geneem word, en die 25 jaar van regeer nie die korrupsie en bankrotskappe in munisipaliteite kon omkeer na suksesverhale nie.

Soweto se skuldlas is so groot dat dit ’n enorme bydrae sou kon maak om Eskom staande te hou, en as die onberekenbare bedrag aan gesteelde elektrisiteit bygereken kon word, was Eskom dalk vry van enige skulde. Die onvermoë om die saak reg te bestuur, is die rede waarom Eskom en Soweto diep in die rooi sit.

Met ’n kwarteeu verby, en ’n deurlopende agteruitgang in elke sektor waar onkundige, oneerlike en onwilliges in beheer was, is die kanse ewe goed dat dit nie verander gaan word in die volgende kwarteeu nie.

Hoe hierdie land wat eers ’n Eerste Wêreld modelstaat was dan gaan lyk, weet ons nie, maar mooi sal dit nie wees nie.