Britse konserwatiewes begin stem

Boris Johnson en Jeremy Hunt

Met twee weke oor voordat die stemmery eindig om ’n nuwe Eerste Minister vir Brittanje te kies, het die gerugte begin dat die verkiesing dalk nie so onskuldig is as wat algemeen aanvaar word nie.

Dit blyk dat die 160,000 Konserwatiewe Party lede nie almal eenders behandel word nie, want sowat 1,000 stemgeregtigdes het meer as een stembrief ontvang.

Die party se lede moet kies tussen Boris Johnson en Jeremy Hunt, en die stemming eindig op 22 Julie waarna ’n wenner aangekondig sal word op 23 Julie.

Johnson wat tot hede die mees gewilde kandidaat is, was voorheen die Minister van Buitelandse Sake in die kabinet van premier Theresa May, maar het weens sy verskille met haar benadering, bedank as minister.

Jeremy Hunt is sy opvolger as Minister van Buitelandse Sake en word allerweë as ’n meer konserwatiewe kandidaat met hoë integriteit beskou.