Washington tart kommunistiese Sjina

Met die jongste aksie word dit ’n onbetwisbare werklikheid dat die Amerikaanse regering daarop uit is om Sjina te tart en uit te lok.

Dit is die mening van ’n politieke ontleder nadat dit bekend geword het dat die Trump-regering besig is met ’n transaksie van $2 miljard se wapentuig wat aan Taiwan verkoop gaan word.

Onderhandelings tussen die VSA en senior beamptes van Taiwan het begin, en word glo gedoen om die Sjinese se woede verder die hoogte in te jaag.

Die onderhandelings vind plaas terwyl die VSA sy handelsoorlog teen Sjina voortsit en die kommunistiese staat se woede verder vererger deur hommeltuie aan buurlande te verkoop wat naby die Sjinese Suid See geleë is.

’n Amptelike kennisgewing van die voorgestelde transaksie is aan die Amerikaanse Kongres gestuur aangesien die vier bronne wat betrokke is in Taiwan, nie by magte is om self oor die voorgestelde transaksie te praat nie.

Die VSA is die hoof verskaffer van wapentuig aan Taiwan, en die jongste voorstel word beskou as ’n gevaarlike uitdaging om Sjina se reaksie te bepaal aangesien Sjina eis dat Taiwan deel van sy ryk is.

Intussen het President Donald Trump met sy besoek in Ierland gesê die VSA oorweeg dit om invoerheffings op ’n verdere $300 miljard se goedere uit Sjina in te stel.