Vrotsige ekonomiese vooruitsig

Suid-Afrika staar m vrotsige ekonomiese tydperk in die gesig, en die daling in groei wat pas bekendgemaak is, bevestig die moontlikheid van nog meer sakeondernemings wat hulle deure gaan sluit.

Die ekonomiese afplatting met 3,2% is byna gelykstaande aan die swak vertoning van 2009, en alhoewel sommige ekonome reken die land huiwer op die rand van ’n resessie is daar ander wat veel sterker voel.

Bekende ekonome sê die land is reeds in ’n resessie, en die toestand kan die hele jaar lank voortduur, en selfs verder verswak.

In die vierde kwartaal van verlede jaar is ’n groei van 1,4% gerealiseer, maar die eerste kwartaal van 2019 het getoon dat ’n resessie aan die kom is.

Die vervaardigingsbedryf kan as die grootste bron van kommer gesien word weens ’n afplatting van 8,8% en die algehele afplatting is die grootste in meer as ’n dekade.

Waarnemers sê daar is geen moontlikheid dat Cyril Ramaphosa meer werksgeleenthede sal skep terwyl misdaad en ’n swak ekonomiese toestand voortduur nie.