Russe staak vervolging van joernalis

Ivan Golunov

’n Russiese joernalis, Ivan Golunov, wat anti-Poetin is, was gearresteer omdat hy volgens die polisie, met dwelmmiddels deurmekaar sou wees.

Enkele dae later was hulle verplig om die aangehoudene vry te laat en die klagtes teen hom terug te trek.

Hierdie rare optrede van die polisie word nou wyd bespreek in die sosiale media, en die woede van sy ondersteuners is besig om die polisie se aansien by die publiek verder te knou.

Die polisie se optrede is soortgelyk as wat verskeie kere teen die Russiese politieke opposisieleier gepleeg is, wat bevestig dat politieke vryheid in Rusland nog nie toegelaat word nie.

Ivan Golunov se ondersteuners sê hy is deur die polisie geteiken weens sy beriggewing en beplande protes optog wat in Moskou sou plaasvind.

Golunov word hoog aangeslaan onder die publiek vir sy deurlopende berigte oor korrupsie en die onregmatige optrede van die polisie teen onskuldige burgerlikes.

Sedert 1990 is daar ’n heksejag op Russiese joernaliste wat krities is oor die regering en staatsdepartemente. Joernaliste is al vermoor weens hulle kritiek teen die veiligheidsmagte, en word dikwels afgedreig en geïntimideer soos wat die geval is met Ivan Golunov wat gesê het hy was nog nooit by enige dwelms betrokke nie, en wil net sy werk as joernalis behoorlik doen.