Perspektief: Herdenk ons volk se vryheids-akker

Die internasionale vieringe van D-Dag, 75 jaar gelede, het weer die fokus geplaas op die onbaatsugtige opofferings van vorige geslagte.

Gedurende Junie herdenk ons die gebeure van 16 Junie 1900 en die tragedies wat daarop gevolg het:

Op 16 Junie 2019 moet ons terugdink aan tiene-duisende onskuldige slagoffers van haat, aangevuur deur imperiale gierigheid – haat wat in die periode sedert 1989 telkens tot nuwe hoogtes gevoer word, met dieselfde duister hand daaragter.

Terwyl vele sekerlik net aan Vadersdag sal dink, is dit gepas dat ons sal terugdink aan soveel wie nie die geleentheid tot ouerskap gegun was nie; soveel wie na 1902 nie weer hul kinders om hul kon sien opgroei nie …

Aan daardie tragedie kan ons vandag niks verander nie.

Maar ons is dit aan elke volksgenoot, wie s lewe op die vryheids-akker geoffer was, verskuldig om nie hulle offers te vergeet nie

Terwyl 16 Junie, Konsentrasiekampe dag, spesifiek die volksmoord in die Engelse doodskampe gedenk, mag ons nie uit die oog verloor hoeveel het voor en sedert daardie tragiese hoofstuk óók die hoogste offer gebring in die strewe na vryheid nie – Patriotte en Slagtersnek; Blaauwkranz, Italeni en Modderlaer; die herhaalde imperiale aanslae sedert 1841 en (Engels-geïnspireerde) aanvalle deur plaaslike swart volke; aanslae in 1914 en tydens die Grensoorlog, ook ter plaatse tydens jare van kommunistiese terreur …

Rondom hierdie duister herinneringe is daar egter ʼn ligkrans van hoop: die baie positiewe offers – vele daarvan deur oorlewendes uit die kampe wie destyds deur hul gemeenskappe in staat gestel was om plaaslik en oorsee te studeer.

Dit het ’n geslag Afrikaners opgelewer wat konstruktief weerstand gebied het teen ver-Engelsing met CNO skole, Afrikaanse universiteite, Afrikaners wie ons volkskultuur uitgebou het op Christelik-nasionale grondslag.

Daardie selfde geslag het ons volk deur onderdrukking en depressie opgehef; hulle het uit ʼn verskroeide land ’n eerste-wêreld ekonomie gebou deur onbaatsugtig te werk ten behoewe van elke volksgenoot en volks-gesin; die voordeel is ruimhartig gedeel met die wetsgehoorsame gemeenskappe met wie ons hierdie land deel.

Terwyl baie uit die opkomende geslagte in die latere twintigste eeu wegbeweeg het van ons eertydse vryheids-ideale, het ʼn volkskern die vryheids-akker aanhou bewoon, aanhou bewerk, en is ons weer eens besig om op te staan.

Wanneer ons dan op 16 Junie die tragiese offers in herinnering roep, kom ons neem onsself voor om te onthou!

Maar kom ons neem onsself ook voor om die positiewe voorbeelde ons eie te maak

Met onbaatsugtige harte moet ons dan wéér die hand aan die ploeg slaan en ons volk se vryheids-akker ontgin tot voordeel van ons volk;

Selfs te midde van ons huidige omstandighede, moet ons dit steeds ruimhartig doen teenoor elkeen met wie ons gemene grond mag vind;

Maar gedagtig aan die lesse van weleer, moet ons ook onbeskroomd stappe neem om ons eie wat ons weer moet bou, ons eie te hou.

Sodoende sal ons die offers van weleer in ere hou, terwyl ons verseker dat daardie offers geensins verniet was nie.