Perspektief: Een volk, twee strome

Een volk, twee strome is ons tragiese werklikheid

Die reaksie op die die staatsrede is veelseggend, veral aangesien daar absoluut niks nuut in die president se toespraak aangekondig is nie – elke president sedert 1989 was vol beloftes, terwyl party-politiekery en eiebelang die ware staatsrede vergestalt.

Terwyl SONA “standpunt” inneem teen korrupsie, is vele ANC lede in leierskap van kommittees diegene met ‘n bewese korrupsie-geskiedenis;

Uitsprake oor betaling vir dienste klink maar hol in die lig van R18-miljard plus lopende Soweto skuld, terwyl Soweto steeds op rug van betalende verbruikers krag steel!

Terwyl parlementslede in gemak leef en rol in belastingbetalers-geld, lê volksgenote sterwend in hul eie bloed … slagoffers van polities-aangevuurde haat!

Ander lê (spreekwoordelik) in die stormdrein van die lewe, werkloos weens SEB en verarmd weens staats-beleid – maar politici vier allerlei “oorwinnings” en verdien hondered-duisende maandeliks …

EN IN DIT ALLES DEEL DIE SOGENAAMDE OPPOSISIE.

Pragmaties is daar uiteindelik min verskil tussen “slaan terug” en “SA needs concrete action, not dreams”: betekenislose woorde gemeet teen die twee-derde-plus van die ANC-EFF haatblok.

Repliek-verwysings na Artikel 235 is van nul en gener waarde binne hierdie raamwerk.  Artikel 235 is hoogstens die éérste stap na staatkundige onafhanklikheid van die reeds-mislukte staat.

Maar dekades van gemak en materialisme het ‘n breë stroom geskep binne ons volk, ‘n stroom wat teen alle feitlik-logiese bewys steeds meen ‘n parlementêre bedeling onder die diktatoriale beheer van politieke partye is “vryheid”.

Bloot die feit dat “ons party” se lede R100,000-plus elke maand huis toe neem terwyl volksgenote vergaan in armoede skreeu ten hemele!

Hierdie stroom sluit ook buite-parlementêre faksies in wat na links en regs van die spektrum ons mense mislei – na links met verwatering van ons geloofswaardes op die altar van humanisme, na regs met verabsoluterende cankers wat strewe na ‘n volkstaat sonder Christus …

Daar is egter, soos altyd, die silwer rand van roepings-getroue volksmanne en -vroue, gesinne en gemeentes, gemeenskappe wat stil-stil werk aan ons volksvryheid:

hulle is meermale self nie besonder welaf nie, maar werk onder ons volk vir ‘n beter môre; hulle praat min, maar help met RAAD EN DAAD onder diegene wat na die verkiesing vergeet is, diegene vir wie honger en koud harde, daaglikse werklikhede is.

Dit is diegene wat biddend werk, wie opoffer vir hulle kinders en so ‘n geslag grootmaak wat hierdie edel volkskap sal voortsit …

So hartseer as wat hierdie verdelingslyn is, is die omarming van humanisme in die binne- sowel as buite-parlementêre politiek die sleutel wat ons reaksie móét bepaal:

as Geloftevolk durf ons geen gemene grond met die mags-korrupsie van die party-politiek te soek nie;

as Geloftevolk durf ons geen gemene grond met die humanisme in ‘n burgerlike samelewing te soek nie;

en net so duidelik kan geen Geloftevolk vrede maak met ‘n volkstaat sonder Christus nie!

In ons dag lyk vryheid miskien anders as wat ons in herinnering roep: nogtans begin vryheid op ons knieë, in dieselfde geloofs-getrouheid waarvan ons geskiedenisboeke en oorlwering leer.

Vryheid vind beslag in eie skole, eie ondernemings, eie gemeenskap-strukture; dit mag selfs beteken dat ons, ons bondgenote gaan vind op nuwe terreine …

Bo alles is vryheid ‘n lewenswyse!

Dit is daardie klein, kronkelende stroom wat juis weens die ongelyke bodem bruis en skommel en maal, om deur harde werk homself te handhaaf teen die oorheersing van apatiese assimilasie en gelykstelling van geloof, waardes en norme.

Dit is ‘n gelowige roepings-gehoorsaamheid aan die Geloftes van gister waarop ons ‘n nuwe toekoms kan bou.