Oekraïne nou pro-Navo en EU

President Volodymyr Zelenskiy

Die nuutverkose president van die Oekraïne, Volodymyr Zelenskiy, het sy land verbind tot Navo en die Europese Unie (EU) en is van voorneme om die land op die weg na lidmaatskap te lei.

Hy het ook gesê hy is gereed om met Rusland te onderhandel vir die beeïndiging van die oorlog in die ooste van die Oekraïne.

Tydens sy besoek aan Brussel het die president gesê sy land maak gereed om lid van Navo te word, sowel as van die Europese Unie.

Die president van die Europese Kommissie, Jean-Claude Juncker, en die Sekretaris-generaal van Navo, Jens Stoltenberg, het die nuus verwelkom en gesê hulle wag reeds geruime tyd om die nuwe president van die Oekraïne se buitelandse beleid te hoor.