Motor rubriek – Honda Amaze 1,2 Comfort

Met die verloop van jare het Honda ‘n reputasie opgebou van kwaliteit, betroubaarheid en jy noem dit en dit is daar. Op alle gebiede in die motor wêreld is dit ‘n produk van waarde. Die nuwe Honda Amaze wat in Indië gebou word is ‘n voertuig in ‘n klas wat baie gewild is.

Die vloeiende lyne van voor, langs die kant en agter vorm ‘n eenheid wat spreek van goeie ontwerp. Die sleurkoöfisient is min en die hoofligte vorm ‘n eenheid met die sierrooster, die luginlate en die kolligte wat aan die onderkant gemonteer is. Die bekende “H” embleem is in die middel van die sierrooster gemonteer en vorm ‘n eenheid met die neus gedeelte.

Van die kant gesien pas die wiele netjies in die wielboë en die kant spieëltjies kan weggevou word indien nodig en is dieselfde kleur as die bakwerk. Gapings tussen die deure en die bakwerk is dieselfde deur die bank en is deel van die lyne wat die bak waar die versterkende gedeeltes ingebou is. Die handvatsels om die deure oop te maak is dieselfde kleur as die bakwerk en vorm ‘n eenheid met die res van die motor.

Die agterligte vorm deel van die bakwerk en die bagasiebak deksel en is duidelik sigbaar vir verkeer van die kant af. Die bagasiebak deksel maak maklik en hoog oop en die laairuimte van die bagasiebak is 360 liter. Dit beteken ‘n aansienlike hoeveelheid bagasie kan gelaai word vir wanneer die lang pad oor ‘n naweek aangepak word.

Wanneer die deure oopgemaak word is die binne-afwerking wat gesien word van hoogstaande gehalte en pas al die toerusting ewe netjies. Die kleur van die binne-afwerking is ‘n mengsel van lig en donker bruin wat goed bymekaar pas en ‘n eenheid vorm. Die radio maak voorsiening vir “bloutand” toerusting, lugversorging en nog aansienlik meer toerusting. Alhoewel dit prakties en eenvoudig is, is dit van baie goeie gehalte. Die sitplekke is gerieflik en ‘n gemaklike sitposisie kan ingeneem word en die ratkierie van die vyfspoed handrat pas gemaklik in die palm van die linkerhand. Die rat skakeling is glad en moeitevry en dit is ‘n bekende gegewe van Honda. Die instrumente is regvoor die bestuurder gemonteer en kan maklik gelees word deur die boonste gedeelte van die stuurwiel. Vir agterste passasiers met lang bene is daar meer as genoeg plek en ook vir die voorste passasier is daar genoeg plek.

Op die pad verrig die 1,2 liter, vier silinder enjin sy werk moeitevry en 66 kW is beskikbaar asook wringkrag van 110 Nm. Die kragbron se toere kan, wanneer nodig, met gemak opgejaag word en alhoewel dit nie ‘n blitsbuks is nie, doen dit werk moeitevry. Op die snelweg hou dit gemaklik by die neergelegde spoedbeperking en selfs teen skotige opdraande verloor dit nie spoed nie. Na verneem word is die brandstofverbruik ongeveer 6,5l/100 km en die brandstofhouer neem 35 liter. Die veiligheidsaspek is nie agterweë gelaat nie en veiligheidsgordels, lugsakke en ABS remme maak deel uit daarvan.

175/65 R15 bande is gepas en padgeraas is tot die minimum beperk en dit tesame met ‘n redelike sagte veerstelsel sorg dat die padgedrag van hoogstaande gehalte is.

Hierdie is die ideale motor as ‘n eerste motor of tweede gesinsmotor en kan gerus oorweeg word wanneer ‘n motor aageskaf moet word. Dit kan aanbeveel word en ‘n padtoets by u naaste Honda handelaar kan die nodige inligting verskaf.