Miljarde rand teen Eskom?

Omgewings aktiviste het ’n hofgeding teen die kragvoorsiener Eskom begin oor sy geweldige lugbesoedeling wat verantwoordelik is vir die dood van baie mense.

Die hofgeding kan uiteindelik meebring dat die regering, en sy maatskappy Eskom, verantwoordelik gehou word om die lugbesoedeling in veral die Oos-Transvaal omgewing te beëindig.

Dit beteken dat die huidige 14 kragstasies in die streek vervang sal moet word met alternatiewe opwekkings metodes, waarvan kernkrag, sonenergie en wind energie die mees gewilde stelsels is.

Vervanging van die kragsentrales beteken dat die regering hom gereed moet maak om na raming R350 miljard op te dok.

Die kragvoorsiener wat reeds op die afgrond staan om bankrot verklaar te word, sal nimmer sulke geld kan genereer om terug te betaal aan wie dit ook al mag toestaan as ’n lening nie, en selfs die sukkelende ANC regering se ekonomiese toestand sal nie in staat wees om die vrag te dra nie.

Finansiële deskundiges sê die bedrag is konserwatief bereken, en kan selfs hoër wees as in aanmerking geneem word dat die vervanging oor ’n tydperk van jare gedoen sal word, wat  ’n invloed het op die koste struktuur.