KONSENTRASIEKAMP DAG 16 JUNIE


Ons herdenk 16 Junie, as konsentrasiekamp dag. Op Donderdag 16 Junie 1900 het Lord Roberts, bevelvoerder van die Britse magte tydens die Tweede Vryheidsoorlog, ‘n proklamasie uitgevaardig wat die Britse beleid van “verskroeide aarde” amptelik verklaar het.

Hierdie beleid van plaashuise afbrand en voedselvoorrade vernietig, is geïntensifiseer onder Kitchener. Nagenoeg 30,000 wonings is afgebrand, duisende stuks vee is afgemaai en gesaaides is vernietig. Die Britte het tot uiterstes gedaal om die Boeremag tot oorgawe te dwing. Konsentrasiekampe is aanvanklik opgerig vir die wapen-neerlêers en hulle gesinne. ‘n Groeiende getal vrouens en kinders is egter na hierdie berugte kampe geneem soos wat plaaswonings verwoes is. Weens die haglike omstandighede in die kampe – besmette water, swak voeding, ontberings weens wind en weer en onvoldoende mediese sorg – was die sterftesyfer aansienlik. Na beraming het sowat 34 000 Boere in die kampe gesterf; meeste hiervan vrouens en kinders. Die Boervolk het egter weer opgestaan, weliswaar met littekens. Ons bring hulde aan hulle wat die hoogste prys vir vryheid betaal het.
Ons het ‘n geskiedenis, ‘n geheue, ‘n identiteit. Hoe benader die Christen patriotisme? Patriotisme is ‘n spesiale liefde of toegeneentheid teenoor volk en/of vaderland. Ons lees daarvan in die Bybel, bv. 1 Timoteus 5:8 “As iemand nie vir sy eie mense en veral nie vir sy huisgesin sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy slegter as ‘n ongelowige.” Paulus sê in Romeine 9:2-3 dat daar by hom “groot droefheid en voortdurende hartseer is oor my broers, my eie volksgenote. Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees.” Ons weet ook dat Jesus Sy mense, Sy stad, Sy volk so liefgehad het dat Hy oor hulle gehuil het (Lukas 19:41-44). Daar is dus beslis plek vir patriotisme in die Christenlewe. Maar ons is eerstens Christene. Dit is krities om te besef dat ons nader gebind is aan ons broers en susters in Christus in ander lande/kulture as aan ons naaste ongelowige Afrikaner. Andersins raak ons patriotisme eerder afgodery. Soos wat uitdagings ons volk vanaf beide binne en buite nader, gebruik ons Bybelse en koninkrykwaardes, nie slegs aardse voorkeure nie, om hierdie uitdagings te trotseer. Ons toegeneentheid vir ons volk, ons aardse patriotisme, word in gepaste plek gehou deur ‘n onderdanigheid aan God.
Jesus is ons Koning, ons soek allereers Sy koninkryk, maar met hierdie wete is dit dan ook reg om dankbaar te wees dat God ons as volk tot hier gebring het. Ons vertrou op God se almag dat Hy ook nou vir ons hier as volk uitkoms van verdrukking sal gee; ‘n plek onder die son in hierdie vaderland vir ons kinders en kindskinders.


Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou:
Skenk ook ons die krag, o Here! om te handhaaf en te hou —
Dat die erwe van ons vaad’re vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry.
Soos ons vadere vertrou het, leer ook ons vertrou, o Heer:
Met ons land en met ons nasie sal dit wel wees, God regeer.