Hewige aardbewing tref Sjina

Minstens 11 mense het omgekom en sowat 120 het beserings opgedoen tydens ’n aardbewing in die Sichuan provinsie.

Die sentrale punt van die skudding was net buite ’n stad waar 4,5 miljoen mense woon en reddingswerkers het talle mense uit die puin van ineengestorte geboue gehaal.

Die skudding wat 6,0 op die Richterskaal geregistreer het, en in die suidwestelike deel van Sjina Maandagnag chaos veroorsaak het, volg kort op die geweldige oorstromings wat verlede week dele van Sjina getref het.

In een van die stede het ’n reuse hotel ook inmekaar gestort, en was reddingswerkers nie seker hoeveel mense moontlik onder die puin begrawe is nie.

’n Reeks naskokke, waarvan die grootste 5,0 registreer, het paniek veroorsaak en duisende mense uit geboue laat vlug uit vrees vir nog ineenstortings.