Genoeg is nou genoeg, sê TLU SA

Die aansienlike toename in plaasaanvalle en moorde sedert 2012, en veral na die onlangse verkiesing, is vir TLU SA ‘n groot bron van kommer. Volgens Henry Geldenhuys, Adjunk-President van TLU SA, is dié toedrag van sake, veral in ag genome die gepaardgaande barbaarse marteling van slagoffers, skrikwekkend. 

“Die nasionale moordsyfer van ongeveer 53 mense per dag, is vir ons en ons lede totaal onaanvaarbaar. In Mei-maand alleen, was daar 46 aanvalle en 7 moorde op plase.  Junie 2019 het skaars begin en daar is reeds 5 aanvalle en 1 moord op plase en plotte, stede en dorpe uitgesluit,” het Geldenhuys gesê. 

Die ope vraag bly, wanneer gaan daar op Regeringsvlak, van die SAPD en die NVG  konkrete werk daarvan gemaak word om die onverklaarde oorlog wat teen landbouers gevoer word, te stuit? Daagliks word van politieke verhoë uitsprake gemaak dat boere die grond waarop hul kos vir alle inwoners van Suid-Afrika produseer, gesteel het. Op hierdie stadium swyg die President sowel as die hele kabinet en veral die minister van SAPD oor hierdie aanvalle en moorde wat onverpoos voortgaan.  Die vraag kan tereg gevra word of hulle stilswye gesien kan word as kondonering van hierdie onaanvaarbare situasie.

“Dit kan beslis nie so aangaan nie! TLU SA daag die Regering, SAPD en NVG om binne die volgende maand ‘n doeltreffende en werkbare oplossing te implementeer.  Die fondament hiervan moet wees dat die wet doelgerig en dringend toegepas word.  Dit is die SAPD se plig om wette soos die beskerming van eiendom, die bekamping van terrorisme, brandstigting, betreding, moord, verkragting, die aanhits van geweld pligsgetrou toe te pas.  Die totale verval van wetsgehoorsaamheid in ons land kan nie langer met gevoude hande aanskou word nie. Daar moét eenvoudig opgetree word.”

Hy het landbouers, swart en wit, sterk aangeraai om hulle veiligheid op te skerp en hulle plaaswerkers strategies in te sluit. “Dra u wapen, weet hoe dit werk, en gebruik dit waar nodig binne die wet om uself en u gesin se lewens te beskerm. As u nog nie deel van ‘n Veiligheidstruktuur is nie, beveel ons aan om baie dringend daarby betrokke te raak.”

TLU SA rig ‘n uitnodiging aan alle landbouorganisasies, insetverskaffers, sekuriteitsmaatskappye en almal betrokke by Landelike veiligheid, om dringend saam te werk om druk op die regering en hulle strukture uit te oefen. 

Geldenhuys het gevra dat landbou insetverskaffers ook finansieel tot TLU SA se sekuriteitsveldtogtoë bydra. “Sonder boere is daar nie kos op ons tafels nie, gaan u as insetverskaffer ook nie meer kan bestaan nie en gaan groot dele van die platteland totaal tot niet gaan. Dit is hoe ernstig die situasie is in die lig van die enorme groei in aanvalle en moorde tans. Dit terwyl groot dele van die land se boere onder ’n vernietigende droogte gebuk gaan en het hulle te kampe met deurlopende diefstal van landbouprodukte en vee. Die druk op ons finansies om op talle gebiede bystand te verleen is baie groot.”