Trump: Geen oorlog met Iran


President Donald Trump

Uit Washington word berig dat die Amerikaanse president, Donald Trump, gesê het die Minister van Verdediging, Patrick Shanahan, moet weet hy beplan nie ’n oorlog teen Iran nie.

President Trump het egter ’n week gelede opdrag gegee dat ’n vliegdekskip met ’n aantal vegvliegtuie en bomwerpers na die Midde-Ooste gestuur moes word indien die regering van Iran met gewelddadige optrede sou begin teen enige vennoot van Amerika.

Die president het ook aan die media gesê daar is geen gedagte om met Iran in ’n oorlog gewikkel te raak nie, maar het wel die druk verhoog met die hoop dat Iran sou instem tot onderhandelings vir die daarstelling van ’n nuwe kernwapen akkoord.

Intussen het Iran skerp gereageer op die hernude sanksies wat die VSA teen hom ingestel het, asook die bedreiging van oorlogskepe en vliegtuie wat in die Midde-Ooste ontplooi is.

Iran se Minister van Verdediging het die VSA beskuldig van boelie, en het selfs erken dat die Amerikaanse maatreëls teen sy land ’n erge finansiële implikasie het.

Intussen het ’n ondersoek aan die lig gebring dat Iran agter die sabotasie sit van Saoedi Arabië se olieraffinadery, sowel as die beskadiging van sy olie pyplyn.