TLU SA se groete aan Ramaphosa

TLU SA het Pres. Cyril Ramaphosa sterkte en wysheid toegewens nadat hy vandag weer in die parlement aangewys is as die president van Suid-Afrika.
 “Pres. Ramaphosa kan daarop reken dat die kommersiële boere sal voortgaan om voedsel op die land se tafels te voorsien, maar ons boere vereis dat beleidsekerheid nou moet gestalte kry, en hulle wil die versekering hê dat hulle eiendomsreg nie op enige wyse in gedrang kom nie,” sê Mnr. Louis Meintjes, TLU SA se president.
TLU SA hoop dat Pres. Ramaphosa in sy nuwe termyn ekonomiese groei bo uitgediende sosialistiese politieke retoriek sal stel en ontslae sal raak van korrupte politici en amptenare.
“Pres. Ramaphosa sal ter bereiking van ekonomiese groei die krag- en sluimerende waterkrisis moet oplos en beleggers moet lok deur gesonde ekonomiese beleid aan te kondig,” sê hy. “Ons is versigtig-optimisties nadat hy gesê het sy nuwe kabinet sal gebalanseerd wees en deur Suid-Afrikaners verwelkom word. Ons hoop dat hy in sy keuses vir ministers kundigheid voor gunste en gawes sal stel.
“Ons uitgangspunt was nog altyd dat kundigheid bo enige ander vereiste soos ras, sal bydra tot ekonomiese bemagtiging in Suid-Afrika. Daarom stel ons weer ons versoek dat rasgebaseerde wetgewing gestaak moet word.
“Ons hoop dat Pres. Ramaphosa nie sal toegee aan radikale eise nie maar die land en ons inwoners eerste sal stel,” sê Mnr. Meintjes.