Swak politieke presteerder beswaard

Van die kamma-politieke partye wat aan die verkiesing van 8 Mei deelgeneem het, het nou vol besware die Onafhanklike Verkiesingskommissie getakel om hulle eie onvermoë t verberg.

Van die 48 politieke partye wat aan die verkiesing deelgeneem het, is minstens 27 van die vrot presteerders nou ernstig beswaard.

Fie partye sê die vele foute wat opgeduik het tydens stemdag, is rede tot kommer dat die verkiesing nie goed bestuur is nie, en vra vir ’n onafhanklike ouditering van stembriewe en ander gebeurlikhede.

Die feit dat sowat 20 kiesers meer as een keer gestem het omdat die ink maklik van die vinger verwyder kon word, is een van die hoofredes waarom die partye ontevrede is.

Stemlokale wat laat oopgemaak het, en ander wat nooit oop was nie, terwyl talle lokale uit hulle voorraad stembriewe geraak het, is verdere klagtes wat die verloorders beskou as die rede waarom hulle so swak gevaar het.

Die beswaarmakers eis dat die OVK voor of op 11 Mei ’n onafhanklike oudit-span aanwys om die verkiesing te ondersoek, en by gebreke daaraan sal die Verkiesings-hof genader word om die owerheid te dwing tot die uitvoering van die eise.