Saoedi skepe aangeval by Emirate

Saoedi Arabië sê dat twee van sy olie vragskepe onder die handelskepe is wat naby die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) aangeval is.

’n Woordvoerder sê dit was ’n aanval wat klaarblyklik bedoel is om die veiligheid in lewering van ru olie te ondermyn, veral met die geweldige militêre spanning wat tans heers tussen die VSA en Iran.

Die VAE het kort daarna gesê dat vier handelskepe gesaboteer is naby Fujairah, een van die wêreld se grootste olie opgaar sentrums.

Die aard van die aanval op die skepe is nie bekend nie, en die VAE het ook nie bekendgemaak wie se vragskepe dit is wat aangeval was nie.

’n Ander, meer onbekende instansie kon egter daarin slaag om vas te stel dat twee van die skepe aan Saoedi Arabië behoort, en ’n Noorweegse maatskappy sê sy skip is ook aangeval. Die vierde skip se identiteit kon nie vasgestel word nie.

’n Woordvoerder van die Noorweegs olie vragskip sê die skip is deur ’n onbekende voorwerp getref wat egter nie onherstelbare skade aangerig het nie.

Iran het onmiddellik gereageer en gesê die aanval is kommerwekkend, en moet dadelik ondersoek word.

Die voorval vind plaas etlike dae nadat die VSA gewaarsku het dat Iran die verbygaande handelskepe kan aanval wat met die VSA verbind kan word.