Rusland beïnvloed president Maduro

Minister Mike Pompeo

Die VSA se Minister van Buitelandse Sake, Mike Pompeo, het gesê die president van Venezuela, Nicolas Maduro, was gereed om na Kuba te verhuis, maar Rusland het hom oorreed om te bly.

Intussen het President Donald Trump geëis dat Kuba sy militêre steun aan Venezuela onttrek, maar die kommunistiese Kubane het die oproep geïgnoreer.

Volgens Minister Pompeo was die vliegtuig gereed om Maduro na Kuba te neem gedurende die vroeë ure van Woensdag, maar Rusland het hom geadviseer om nie sy vesting te verlaat nie.

Die opposisieleier, Juan Guaido, het ’n oproep gedoen tot die militêre leiers om saam te kom met die “grootste saamtrek” in die geskiedenis van die land en hulle te skaar by die instand hou van die Grondwet en die land se demokrasie.

President Trump het later ’n tweede waarskuwing tot Kuba gerig en gesê die hoogste vorm van internasionale sanksies sal op die kommunistiese eiland toegepas word indien sy troepe betrokke is by gewelddadige optrede in Venezuela.