Perspektief: Vreeslose geloof, of nie

Aldus die koerant-opskrifte staan ons op die drumpel van ʼn nuwe era; terwyl die president ons mense probeer gerusstel en by ons bedel om nog ʼn maal die land (deur Afrika kommunisme verwoes) op te bou, spreek die kriminele rekords van lede in die nuutste parlement boekdele van wat ons werklik te wagte kan wees in die komende jare.

Te midde van leë beloftes uit elke politieke oord, drup die koerant-opskrifte onskuldige bloed: op plase oor ons land, op snelweg-afritte …

En mags-dronk ANC-kaders dreig luider as onder enige vorige ANC-leierskap met volgehoue moord en diefstal – alles kritiekloos en onder ʼn koor van liberale regverdiging.

Ons kan sekerlik bladsye skryf van selfs net die algemene onreg wat in ons eens pragland hoogty vier; dat ons volk vuisvoos voel – en ís – weet ons verseker.

Het Donderdag 30 Mei ons iets geleer van ons volk?

In lig van die kruipende kriminalisering van suiwer geloof, is hierdie vraag meer aktueel as wat baie dalk dink, want afskaffing van publieke Christelike feesdae is baie maal maar die eerste stap na owerheids-dwang en onderdrukking van Christenskap.

Dit is belangrik dat ons sal raaksien dat uit alle omstandighede gebeur daar iets goed: een goeie resultaat van ʼn heidense regering en -samelewing, is dat elke Christen sy en haar geloof nie net duidelik moet verwoord nie, maar ook vreesloos uitleef – of nie.

Uit die staanspoor moet ons duidelik stel: uiterlike vorm-godsdiens, feeste en rituele op sigself is nie van enige saligmakende waarde nie.

MAAR ons word wél geroep om ʼn lewe te leef wat God alléén verheerlik voor die wêreld.  Dit begin in die huis om die Woord en huis-godsdiens, as deel van ʼn gesinslewe waarin God die sentrum is.

Dit vind verder beslag in ons daaglikse doen en late – individueel, as gemeenskap en uiteindelik ook as volk.

Ons moet ook duidelik wees oor ons motief: ons lewe moet elke dag, elke uur die eer van God verkondig; ons omgaan met mense moet aan hulle Christus wys; ons voorbeeld moet mense laat vra na die koninkryk van God!

Dit alles moet ons doen uit dankbaarheid, nie in die verwagting van beloning nie.

Ons daaglikse lewe moet dus lewe gee aan die roepings-leuse van die reformasie:

lewe na God’s wil – sola Scriptura

doen dit dankbaar – sola Gratia

volhard – sola Fidei

Uiteindelik is die lewensweg die belangrike wat ons moet raaksien: ons moet hierdie een geleentheid ten volle benut, opreg benut.  Uiteindelik sal ons die genade-loon ontvang, dit staan seker en niemand kan ons dit ontneem nie!

Dit mag moontlik ook wees dat ons hier en nou vrug mag pluk – maar ook dit sal slegs genadige beskikking wees.

Gaan ons volks-gedrag op Hemelvaartdag 2019 spreek van ʼn volk wie terugkeer na hul geloofswortels?

Is ons geloofs-erns sodanig dat ons bereid sal wees om die dag (soos baie lank gelede) opnuut aan God te wy, sonder voorbehoud of verwagting?