Motor rubriek – Suzuki Vitara

Die ingenieurs by Suzuki het dit goed gedink om die Vitara so effe op te kikker en die nuwe Vitara is in SA bekendgestel. Soos voorheen is die Suzuki beskikbaar met ‘n elle lang lys van toerusting.

So word die boonste gedeelte van die instrumentpaneel nou vervaardig van sagter materiaal en ‘n nuwe 4,2 duim, vol kleur aanraakskerm is gepas in die GL+ en die GLX modelle gepas. In die GL modelle is ‘n 3,5 duim monochroom LCD skerm gepas.

Hierdie skerm voorsien inligting betreffende rathefboom posisie, gemiddelde snelheid, buite temperatuur, ensovoorts. In die luukse modelle word die tru kamera se beeld vertoon, bloutand gerief, binne temperatuur beheer, beheer van die elektries beheerde vensters, spoed beheer, radio beheer en nog talle ander gerieflike toerusting.

Verdere toerusting wat in die luukse modelle gemonteer is, is sleutellose toegang tot die voertuig, ‘n drukskakelaar om die enjin aan te skakel, elektries beheerde sondak en verchroomde dakstutte.

Die 1,6 liter, vier silinder kragbron bly onveranderd en 156 Nm wringkrag is beskikbaar en die krag is 86 kW. Vir die kragoorbrenging is dit beskikbaar met of ‘n vyfspoed handratkas of ‘n ses spoed outomatiese ratkas. ‘n Keuse kan uitgeoefen word vir of ‘n aanpasbare AllGrip permanente vierwiel aandrywing of voorwiel aandrywing.

Op al die verskillende modelle is ABS remme met ESP ondersteuning gepas en binne in die voertuig is ‘n totaal van sewe lugsakke gemonteer. Binne-afwerking is van hoogstaande gehalte en sitplek vir die insittendes is meer as genoeg met al die nodige verstellings vir die bestuurder se sitplek. Die bagasieruimte is ruim genoeg om ‘n redelike hoeveelheid bagasie te kan neem.

Padgedrag is van hoogstaande gehalte veral vir die “Suzie” met die permanente vierwiel aandrywing. Dit is ewe tuis op die snelweg en op grondpaaie.

Buite-afwerking trek dadelik die aandag waar die Vitara ookal mag verskyn. Die sierrooster met die groot ”S” embleem in die middel van die sierrooster vorm deel van die hoofligte en kolligte is aan die buitekant van die voorste modderskerms gepas.

Aan die agterkant maak die bagasieruimte se deksel groot oop vir moeite vrye inlaai van bagasie. Allooi wielnawe rond die buite aansig af en die agterligte gaan om die hoeke van die voertuig en is deel van die sierlike lyne langs die kant. Die agter ligte is duidelik sigbaar vir verkeer van die kant af.

Soos vorige Vitara’s beloof die nuutste voertuig om ‘n gewilde en suksesvolle voertuig te wees en u kan dit gerus op u “kruideniersware” lys plaas indien u in die mark is om ‘n nuwe voertuig aan te skaf.