Motor rubriek – Lexus UX200 F Sport

Die Lexus sportnuts voertuig staan sy plek ten volle vol in die luukse motor afdeling. Dit het ‘n bou vorm van sy eie en waar dit ook al mag beweeg, trek dit aandag.

Die nuwe UX200 se sierlike lyne sorg dat die windweerstand tot die minimum beperk word. Die luikrug dak vorm met die drukvlerk op die boonste gedeelte van die agterste deur ‘n eenheid wat dan weer ‘n eenheid vorm met die geronde gedeelte van die agterkant. Die agterligte strek van kant tot kant met ‘n dun rooi strepie wat die twee ligte met mekaar verbind. Die bagasie ruimte kan 192 liter bagasie neem en is groot genoeg om genoeg bagasie te huisves by wyse van byvoorbeeld twee redelike groot tasse.

Van voor gesien het die sierrooster met die groot luginlate aan die kant en die kolligte wat daar gemonteer is ‘n eie aansig wat net hierdie luukse produk van Toyota kan weerspieël. Die hoofligte vorm deel van die neus gedeelte en is op so ‘n manier ontwerp dat die wind weerstand tot die minimum beperk word. In die boonste gedeelte van die sierrooster is die bekend “L” embleem gemonteer en dit sluit aan by die geronde gedeelte van die enjinkap.

Die plastiek afwerking in die wielboë sorg dat sou daar op ‘n grond pad gery word, sal die bakwerk nie beskadig word deur klippe wat deur die wiele opgegooi word nie. Om die bakwerk te verstewig is dit uitgebou en vorm dit weer deel van die lyne van die bak.

Wanneer die deur aan die bestuurder se kant oopgemaak word sonder om ‘n sleutel te gebruik om dit oop te sluit en om in te klim, trek die binne-afwerking dadelik ‘n mens se aandag. Die rooi bedekte afwerking van die sitplekke skep ‘n “jeugdige” indruk en wanneer daar ingeklim word is dit opmerklik hoe ‘n gemaklike sitposisie ingeneem kan word. Die bestuurder se sitplek is elektries verstelbaar en dit kan na jou smaak verstel word. ‘n Wye reeks van toerusting is beskikbaar wat insluit ‘n 13 luidspreker Mark Levinson radio, satelliet navigeer stelsel, blinde kol waarskuwing, 360 grade parkeer kamera, outomatiese terugkeer stelsel wanneer daar van bane verwissel word, agt lugsakke en nog talle ander toerusting wat insluit die aanraak skerm. Regvoor die bestuurder is die instrumente in die instrument paneel gemonteer met die toereteller wat die grootste vorm het en dadelik die aandag trek. Die dik greep gedeelte van die stuurwiel verseker dat daar behoorlik beheer uitgeoefen kan word en die rathefboom pas gerieflik in die linkerhand se palm. Op die stuurwiel self is daar verskeie beheer skakelaars aangebring vir die beheer van die toerusting.

Die agterste passasiers kan ook ‘n gemaklike sitposisie inneem en daar is vir die “lang been” passasiers meer as genoeg plek.

Die kragbron is ‘n juweel en alhoewel dit nie in die sportmotor afdeling is nie, is die werkverrigting van hoogstaande gehalte. Deur gebruik te maak van ‘n direkte brandstof inspuitingstelsel vir die enjin met ‘n druk verhouding van 13,0 tot 1, is dit moontlik om ‘n brandstof verbruik van ongeveer 6,5 l/100 km te kan bereik.’n 1987 kub. sentimeter, dwars gemonteerde, vier silinder, inlyn petrol enjin word gebruik en ‘n 16 klep, dubbel oorhoofse nokas sorg dat die kragbron kan “asemhaal”. Die kraglewering is 126 kW tussen 6600 o.p.m. en 6800 o.p.m. en die maksimum wringkrag is 205 Nm teen 4800 o.p.m. Die krag oorbrenging na die voorwiele geskied by wyse van CVT outomatiese ratkas en die oorskakeling vind seepglad plaas. Dit is moeilik waarneembaar en as ‘n mens nie daarop ingestel is nie, kom jy dit nie agter nie.

Die bakwerk is gemonteer op dieselfde onderstel as die Toyota C-HR en ‘n “adaptive Variable Suspension” word gebruik. Dit sorg dat enige rit, of dit in die dorp/stad of op die snelweg is, ten alle tye van hoogstaande gehalte is.

Deur gebruik te maak van geventileerde skywe op die voorwiele en soliede skywe op die agter wiele, kan die voertuig tot stilstand gebring word onder drie sekondes van 0 tot 100km/u.

Hierdie is ‘n voertuig om op trots te wees en u kan gerus u naaste Lexus handelaar gaan besoek en dit vir ‘n toetsrit neem – dalk net skaf u een aan!