Motor rubriek – Audi RS5 Sportback quattro

Wanneer die naam Quattro gehoor of gelees word gaan ‘n mens se gedagtes onwillekeurig terug na die jare van die “boksvormige” Quattro wat gebruik was in tydrenne en dit suksesvol voltooi het. Daardie bekende “blaf” van die turbo-aanjaer wat gehoor is, wat jou bloed sommer vinniger laat pomp het!

Daar kan verwag word dat die nuwe Audi RS5 Sportback wat sommige van die lyne van die koepee het maar aan die anderkant is dit meer vaartbelyn en om die agter deure te kan laat pas, is dit 60 mm langer. Die dak is 28 mm hoër om die agterste passasiers te kan akkommodeer. A.g.v. die langer en hoër bakwerk is dit 185 kilogram swaarder as die koepee maar ‘n mens kan met sekerheid aanvaar dat die Audi ingenieurs die nodige aan die kragbron gedoen het om daarvoor te kompenseer.
Die sierlike buitelyne trek dadelik die aandag waar die motor dit ookal mag bevind. Van voor gesien laat die RS embleem op die sierrooster geen onduidelikheid bestaan watter voertuig hierdie is nie. Die LED hoofligte vorm deel van die sierrooster en die voorste gedeelte van die voertuig. Wanneer die enjinkap oopgemaak word is daar nie veel te sien van die 2,9 liter, V6 kragbron nie want is bedek met ‘n plastiekskerm en onder daardie skerm is die direkte brandstof inspuiting, dubbel oorhoofse nokas, dubbel turbo aangejaagde kragbron wat hierdie besonderse voertuig aandryf. Die V6 lewer 331 kW tussen 5400 o.p.m. en 6700 o.p.m. en die wringkrag is ‘n baie “handige” 600 Nm tussen 1900 en 5000 o.p.m.

Van die kant gesien is die sierlike lyne tesame met die standaard Audi Sport allooi wielnawe verantwoordelik daarvoor dat ‘n mens nie kan wag om die motor binne te gaan nie. Die band grootte is 275/30RZ20 en dit vul die wielboë op so ‘n manier dat dit ‘n eenheid vorm. Aan die binnekant van die motor wag daar die bekende goeie afwerking van die Audi op jou. Op die onderste plat gedeelte van die stuurwiel is die RS embleem aangebring en die stuurwiel pas met gerief in jou hande. Die bekende tablet aanraakskerm is in die middel van die instrumentpaneel gemonteer met al die instrumente regvoor die bestuurder. Die sitplekke het verskeie verstellings en ‘n gemaklike sit posisie kan ingeneem word. ‘n Instrument wat die werking van die turbo aanjaer aandui maak deel uit van die gewone instrumente en al die ander toerusting soos lugversorger, radio ensovoorts is gepas.

Met die permanente vierwiel aandrywing in plek sorg die ratkas dat alles seepglad verloop.

Die sentraal gemonteerde ewenaar doen die krag verspreiding na die voorwiele en na die agterwiele maar dit verskil soos die krag benodig word. Die krag verdeling word elektronies beheer.

Na verneem neem die versnelling van 0 tot 100 km/u 4,1 sekondes en die top snelheid word elektronies beperk op 250 km/u.

Wanneer agter om die voertuig beweeg word word ‘n mens se aandag onmiddelik gevestig op die twee ovaal uitlaatpype wat deel vorm van die agterste stamper. Die afwerking as ‘n geheel van die agterkant van die voertuig het ‘n aantrekkings krag van sy eie en die agterligte vorm ‘n eenheid met die kattebak deksel, die bekende Audi kenteken en die RS5 embleem.

Hierdie is ‘n motor van formaat en sy padgedrag is van hoogstaande gehalte. Of dit op ‘n plat en reguit gedeelte van die snelweg is en of jy jou in die berge bevind met al sy kronkelende gedeeltes, dit is en bly ‘n motor om te geniet en te waardeer.

Hierdie motor kan gerus op u inkopielys geplaas word vir aankoop en u kan gerus u naaste Audi handelaar gaan besoek vir ‘n toetsrit. Wanneer ueen aanskaf moet u maar net versigtig wees dat die regter voet nie te swaar is nie want dit kan u dalk in die moeilikheid laat beland.