Masels-virus bestry kanker

Oral oor die wereld is daar nou weer berigte dat die kindersiekte, masels, epidemiese afmetings aanneem. In New York waar daar slegs 75 gevalle van die kindersiekte is waarvan die grootste gedeelte onder onwettige immigrante uitgebreek het, word dit ook ‘n epidemie genoem. Dus moet daar nou weer inentingsveldtogte van stapel gestuur word.

Navorsers verbonde aan die invloedryke Mayo-kliniek in Amerika meen egter dat daar weer ‘n keer gedink moet word voordat die bekende kindersiekte uitgeroei word.

Dr. Angela Dispenzieri van die kliniek het uitgevind dat die virus kanker beveg en in een geval ‘n gewas so groot soos ‘n gholfbal in 36 uur vernietig het.

Dr. Dispenzieri het verduidelik dat die virus kankerselle op ‘n hoop jaag en dit dan laat ontplof. Dit stimuleer ook die immuniteitsisteem om ander kankerselle op te spoor en “skoonskip daarvan te maak.”

Skynbaar is dit ‘n bekende feit onder navorsers dat masels en ander virusse natuurlike kankerdoders is. Die probleem met viroterapie – soos dit genoem word – is dat dit belangrik is om die dosis te bepaal. Dispenzieri en haar span by die Mayo-kliniek het ‘n vrou wat in die laaste stadium van veelvuldige myeloma was, ‘n dosis toegedien wat sterk genoeg was om 10 miljoen mense in te ent.

Vir die vrou (49) was viroterapie haar laaste kans. Sy het reeds verskeie tipes chemoterapie ondergaan asook twee stemseloorplantings gehad wat nie suksesvol was nie.  Die reaksie na die inspuiting was vinnig en hewig. Sy het ‘n geweldige hoofpyn en ‘n hoё koors ontwikkel en daarna kwaai gebewe en gevormeer. Maar binne 36 uur het die gewas verdwyn en twee weke later was daar geen teken van kanker in haar liggaam nie.

Dr. Stephen Russell, een van die navorsers verbonde aan die Mayo-kliniek het bevestig dat die dosis die deurslaggewende faktor is.

Navorsers verbonde aan die University College London stem saam dat viroterapie groot belofte in die behandeling van kanker inhou. In ‘n studie getiteld: “Measles to the rescue” word bevestig dat viroterapie en veral die maselsvirus nuwe gesigsvelde in die behandeling van kanker open.