Kernenergie-eenheid gesluit

Die Pretoria Mediese Kernenergie Eenheid is binne enkele maande vir ’n tweede keer gesluit, en kos die land miljoene Rand per dag.

Die sluiting beteken ’n verlies aan verkope van minstens R3,5 miljoen per dag, iets wat die staatsbeheerde Kernenergie Maatskappy van SA allermins kan bekostig.

Die Eenheid is sedert Februarie buite werking, wat beteken dat die verlies aan verkope reeds die R300 miljoen merk verby is.

Dit is die derde keer dat die eenheid die afgelope twee jaar buite werking gestel is, en die Safari-1  reaktor is reeds drie maande afgeskakel, nie omdat daar lekkasies van radioaktiewe stof of enige ander foute opgespoor kon word nie, maar omdat die vereiste papierwerk nie gedoen word nie.

Die sluiting is ook, volgens onbevestigde berigte, direk verantwoordelik vir die dood van verskeie mense omdat die behandelings met lewensnoodsaaklike medikasie nie voortgesit kon word nie.

Kenners sê die Minister van Energie, Jeff Radebe, kan nie weer die raadslede blameer soos wat hy tevore gedoen het nie, want hy het ’n nuwe raad saamgestel.