Handelskepe gewaarsku teen Iran

Maatskappye en handelsvaartuie wat verbind word met die Verenigde State, kan deur Iran geteiken word in sy aggressie teen die land.

Die waarskuwing is gerig deur die VSA se Vloot-administrasie nadat ’n senior woordvoerder in Iran gesê het ’n vloot skepe van die VSA kan met een missiel vernietig word.

Met die toenemende spanning tussen Tehran en Washington het die Iranse Revolusionêre Mag gesê die land sal nie met die VSA onderhandel oor kernwapen ooreenkomste nie, en beskou die VSA as ’n onbetroubare land wat nie sy woord gestand doen nie.

Iran het die opmerkings gemaak na aanleiding van President Donald Trump se aanbeveling dat Iran homself bereid maak om te onderhandel oor die beeïndiging van sy kernwapen ontwikkelingsprogram.