Eskom bly ’n mislukking

Die ANC se Minister van Energie, Jeff Radebe, het erken dat die nasionale kragvoorsiener nie oor die kapasiteit beskik om aan die behoeftes van groter nywerhede te voldoen nie.

Deskundiges op die gebied van kragvoorsiening sê dit is die doodsklok vir die ANC president, Cyril Ramaphosa, se beloftes van geen beurtkrag, groot buitelandse beleggings en baie nuwe werksgeleenthede.

Die ontwikkelaars en beleggers wil eerstens weet of volhoubare elektriese krag voorsien kan word, maar Radebe het eers gewag dat die verkiesing verby is voor hy die aap uit die mou kon laat.

Die Vryburger het onlangs rapporteer dat verskeie groot sakeondernemings besluit het om selfvoorsienend te word in elektrisiteit en dit groot genoeg gaan aanpak om ontslae te raak van die onbetroubare nasionale kragvoorsiener.

Radebe beweer dat dit R1 triljoen sal beloop as Suid-Afrika aan die groter instansies se behoeftes moet voldoen, en dit is alom bekend dat die land vrot van die skuld is, en nie naby so ’n bedrag aan lenings sal kom nie.