Die Amerikaanse aanslag

Wat voorheen beskryf is as ’n voorloper tot ’n hervatting van die Koue Oorlog, het nou tot ’n nuwe dimensie ontwikkel wat rede gee om asem op te hou dat die koue nie ’n :Warm oorlog” word nie.

Die Trump-regering het in die afgelope maande sy dominerende vermoë vertoon deur eers die ontspanne atmosfeer wat geheers het met Noord-Korea in ’n poging om die land se kernwapen projek te stop, omgeskakel tot ’n spanningsvolle verhouding toe President Trump uitgestap het uit die onderhandelings met Kim Jong-un.

Kort daarna is sanksies verskerp teen Noord-Korea, en uiteindelik is ’n vragskip van die kommunistiese Skiereiland deur die VSA vasgekeer weens vermeende onwettige handelspraktyke.

Daarna het die VSA sy dispuut met Iran verskerp en selfs ’n dreigende houding teen die Midde-Oosterse land ingestel deur ’n vliegdekskip met vegvliegtuie en bomwerpers daarheen te stuur  wat die spanning na breekpunt geneem het.

Sanksies teen Iran het die land reeds ernstige ekonomiese kwellings besorg, en die VSA se waarskuwing aan die wereld dat Iran verantwoordelik kan wees vir die aanvalle op verbygaande handelskepe is bewaarheid toe verskeie skepe en ’n olieraffinadery aangeval is.

Met Saoedi-Arabië wat nou ook as Midde-Oosterse land saam met die VSA waarskuwings tot Iran gerig het dat hy nie ’n oorlog moet veroorsaak nie, het die wêreld stiller geword uit vrees dat die hittegolf kan lei tot ’n gevaarlike oorlog.

Asof dit nie reeds voldoende spanning veroorsaak in die wêreld nie, het die VSA sy onderhandelings met Sjina oor invoer heffings gestaak, en daarmee die Sjinese ekonomie ’n harde slag toegedien wat die spanning tussen die twee lande ernstig beïnvloed het.

Die Trump-regering het egter een van sy gevaarlikste oorlogskepe na die omstrede Sjinese Suid See gebied gestuur om daar in die “geannekseerde” seegebied te vaar met die duidelike voorneme om Sjina uit te lok. Met die spanning wat reeds bestaan in die handelsoorlog, het die jongste stap in die Suid See die verhouding tussen die twee lande na breekpunt geneem.

Of die VSA ’n stille verwagting het dat die regerings waarmee hy in konflik gekom het, uiteindelik voor sy aanslag gaan swig, sal net die tyd leer.