Brexit ooreenkoms dalk volgende week

Premier Theresa May

Binne enkele dae kan die Britse Eerste Minister en haar Konserwatiewe Party ’n ooreenkoms bereik met die Arbeidersparty wat die uittrede uit die Europese Unie nou moontlik sal maak.

Die ooreenkoms is klaarblyklik nou ’n sterk moontlikheid nadat die Konserwatiewes en die Arbeiders baie steun verloor het in die plaaslike verkiesings wat pas afgeloop het.

Kiesers het uit frustrasie, omdat die parlement nie tot eenstemmigheid kon kom oor uittrede uit die EU nie, besluit om nie die twee grootste partye te steun nie.

Kenners wys egter daarop dat die Britse Eerste Minister, Theresa May, getoon het dat sy ’n sterk leier is wat met ontsaglike deursettingsvermoë haar plig uitvoer en haar nie laat intimideer deur partygenote en opposisielede nie.

Politieke ontleders beskryf haar as “Brittanje se vrou van staal”.