Bekendstelling van nuwe Afrikaanse film

‘n Nuwe Afrikaanse  rolprent is verlede week in Pretoria bekend gestel. Die rolprent,  “Dies Irae: Dag van Wraak” is vervaardig deur 19 Juliet Media. Die akteurs is Anré Bouguenon en Charlie Bougenon (getroud in die werklike lewe) en Martin Jansen word gehoor as “Die stem.” Die fliek is 104 minute lank.

Van die eerste sekonde tot die laaste is hierdie ‘n boeiende fliek wat handel oor die gewelddadige situasie in die land. ‘n Jong meisie wat vir haar lewe moet vlug en in ‘n mynskag wegkruip terwyl sy weet dat ‘n moordbende op haar spoor is.

Dit is dus ook ‘n aksiefilm, maar is uitsonderlik daarin dat dit dialoog-gedrewe is. Al die emosies waaraan ‘n persoon in so ‘n situasie blootgestel is, word aangespreek: “Is dit reg om ‘n lewe te neem; jy mag nie doodslaan nie is die enigste wet in die Bybel wat sy geglo het sy nooit sal oortree nie; hoe versoen ‘n beskaafde mens homself met moord; hoe het dit gebeur dat sy hierdie besluit moet neem,” is van die vrae wat die heldin aan haarself stel.

Maar belangriker is dat hierdie rolprent die innerlike konflik oor die realisme van die nuwe Suid-Afrika goed uitbring sonder dat dit ooit prekerig raak. Op die mees onverwagte oomblike is daar humor wat verhoed dat die ooit in moralisering verval.

Die draaiboekskrywer, Gustav Venter, verdien ‘n pluimpie vir sy uitstekende hantering van sinvolle dialoog in suiwer Afrikaans, sonder dat hy ooit pedanties raak. En altyd, op onverwagte emosionele tye is daar ‘n kwinkslag om net weer die spanning te breek.

Die akteurs het hulle almal baie goed van hulle taak gekwyt en het boeiende en eerlike spel gelewer. Saam met hulle moet Venter onder sy tweede hoed as regisseur geluk gewens word.

Die fotograaf, Paul Nel en sy span, het bewys waarom hulle onder die bestes in Suid-Afrika gereken word. Nie net was die kamerawerk voortreflik nie, maar die musiek en klank was in alle gevalle toepaslik en het nooit gesteur nie. Nel as redigeerder verdien verdere lof vir sy werk.

Dit is juis ook die musiek wat baie tot die verhaal en uitbouing daarvan bygedra het. Sekere gedeeltes uit die Verdi Requiem wat gespeel is, was tegelykertyd sinvol en skokkend in hoe goed dit toegepas is.

Die belangrikste wat ook moet genoem word is dat die film R350,000 gekos het en so goed geskryf en beplan is dat dit binne nege dae verfilm is.

Die slotwoorde van die heldin gee ‘n goeie opsomming van die positiwiteit van die film:  “My Ouma Lil, die een wat weier om dood te gaan, het altyd gesê: As jy in hierdie land wil bly is daar een reël wat jy moet leer, en jy moet vir hom mooi leer, en dié reël is: Moenie met ‘n Boeremeisie neuk nie.”

Die rolprent gaan nou deur die platteland toer en sal nie in die groot teaters by inkopiesentrums gesien kan word nie. Die verspreiding word deur CD van Reenen gedoen. Vir besprekings, kontak hom by 082 898 6030. Vir nadere besonderhede kontak ook Gustav Venter by [email protected].

Enige instansie wat aan fondsinsamelingsprojekte dink, kan gerus vir Van Reenen of Venter kontak. Hoewel die film ernstig is, kan die hele familie dit sien, en trouens behoort elkeen dit te doen.

Bets Botha.