Turkse president verloor steun

Recep Tayyip Erdogan

Die opposisieparty in Turkye is op die wenpad met groot oorwinnings in sekere dele van die land, en het reeds die meerderheid steun in Ankara getrek met die naweek se verkiesing.

Ook in Istanboel lyk die eerste uitslae nie goed vir die president, Recep Tayyip Erdogan, se party nie.

Alhoewel dit plaaslike verkiesings is, en nie ’n presidentsverkiesing nie, wys kenners daarop dat die president dit waarskynlik nie sal maak in ’n volgende presidentsverkiesing nie.

Met die twee grootste stede, Ankara en Istanboel uit sy hande, gaan dit al moeiliker word om die opposisieparty uit die kussings te hou.

Die afgelope plaaslike verkiesing word algemeen gesien as ’n referendum, en ondersteuners van die opposisieparty het reeds begin saamdrom in die strate van die groot stede en eis die president se bedanking.

Terwyl die regerende party die uitslag in Istanboel betwis, reken waarnemers dat dit baie duidelik is dat die opposisie die meerderheid stemme getrek het, wat as ’n groot terugslag vir die president beskou word.