Toeris val honderde meter in Grand Canyon

’n Toeris van Hong Kong het die naweek hom te pletter geval in die Amerikaanse Grand Canyon nadat hy oorgeleun het by ’n besonder diep afgrond.

Die toeris was oorgretig om ’n foto te neem van die gebied en het by die uitkykpunt te na aan die kant van die afgrond beweeg.

Die woordvoerder van die reisagentskap het die inligting bekend gemaak en sê die vermoede bestaan dat die man duiselig geword het en toe het hy sy balans verloor.

Die Eagle Point uitkykpunt is uiters gewild, en fotograwe het in die verlede gevaarlike kanse geneem om besondere foto’s van die asemrowende Grand Canyon te neem.

Reddingswerkers het ’n groot probleem ondervind om die man se liggaam uit die dieptes van die afgrond na bo te kry.