Soedannese burgerlikes eis verkiesings

Protesteerders in Soedan is erg ontsteld oor die militariste se aankondiging dat hulle twee jaar moet wag voor ’n burgerlike regering ingestel word, en eis dat verkiesings dadelik gehou word.

Om die protesterende kiesers se saak te versterk, het die Duitse Bondskanselier, Angela Merkel, haar ook geskaar by die kiesers se eis om onverwyld ’n verkiesing te hou vir die instel van ’n burgerlike regering.

Die organiseerders van die protesoptogte sê die militariste moet onverwyld vervang word met ’n demokratiese burgerlike regering, so nie sal voortgegaan word met hewige protesaksies.

Khartoum, die hoofstad, is die afgelope maande die simbool van verset teen diktators en militariste wat die volk wil regeer.

Tienduisende kiesers protesteer daagliks voor die parlement en ander regeringsgeboue en die protes optogte groei namate die kiesers besef dat dit hulle enigste wapen teen ’n militêre diktatuur is.