SA bied hulp teen Mosambiek cholera

Alhoewel Suid-Afrika hulp verleen aan die geteisterde Mosambiek na die verwoestende sikloon Idai drie weke gelede oor die landstreek getrek het, styg die cholera gevalle teen ’n ontstellende tempo.

Met nog 320 nuwe gevalle van cholera, het die totaal nou opgeskuif na 1,750, en nog meer gevalle word verwag.

Intussen het die entstof teen die siekte in die land aangekom, en sal die hoofstad Beira eerste wees in die inentingsveldtog.

Meer as 900,000 dosisse entstof is deur die internasionale gemeenskap voorsien om te voorkom dat algehele chaos die land en sy inwoners tref.

Suid-Afrika se span wat ook reddingswerkers van die Rooikruis insluit, het begin om behulpsaam te wees met die inentingsveldtog.

Die sikloon het tot die dood van 600 mense gelei, en die vermoede bestaan dat nog sterfgevalle in plattelandse gebiede was wat nie aangemeld kon word nie.