Rooikruis tree op in Venezuela

Die agteruitgang in Venezuela is so ernstig dat die Internasionale Rooikruis moes ingryp toe die derde kragonderbrekings die grootste deel van die land in algehele donker gehul het.

Die diktator, president Nicolas Maduro, wat noodvoorraad uit die VSA verbied het om die land binne geneem te word, kon egter nie die Internasionale Rooikruis verbied nie.

Die Rooikruis sal binne die volgende twee weke noodsaaklike voorraad voedsel en medikasie in Venezuela versprei om die nood te verlig.

Die aankondiging kom kort nadat Venezuela sy derde kragonderbreking gekry het wat byna die hele land sonder elektrisiteit laat, en die haglike omstandighede verder vertroebel.

Die Internasionale Rooikruis sê die verspreiding word gedoen te midde van die onvermoë van president Maduro om maatreëls te tref ter verligting van inwoners se uiters swak lewensomstandighede.

’n Woordvoerder van die Internasionale Federasie van Rooikruis sê die beweging se personeel sal onbelemmerde toegang hê tot enige gebied in die land om voedsel en medikasie te versprei onder die inwoners.

Die haglike toestande en onverkrygbaarheid van noodsaaklike lewensmiddele het honderde duisende inwoners se lewensgehalte verswak en baie mense wat dringende medikasie benodig, se siektetoestand het versleg.