President Bouteflika van Algerië bedank

President Abdelaziz Bouteflika

Na twintig jaar as regerende staatshoof van Algerië, het President Bouteflika, aangekondig dat hy die tuig neerlê nadat weke van protes in die land voortgeduur het.

Duisende kiesers het in optogte die uittrede van die president geëis, en die druk het so erg geword dat hy verplig was om die aankondiging te maak.

President Abdelaziz Bouteflika se uittrede kom egter nadat die land se Ministerie van Verdediging ’n aggressiewe oproep tot die president gerig het om “onmiddellik” sy pos as president te ontruim.

Die adjunkminister van Verdediging se waarskuwende woorde was voldoende om die president tot finale besluit te bring toe hy gesê het die Weermag sal die inwoners en betogende publiek ondersteun tot hulle volledige tevredenheid gekry het.

Die 82-jarige president het daarna besluit om dadelik te bedank al het sy mandaat eers op 28 April verstryk.