Perspektief: Die twee kante van haatspraak en rassisme

Die blatante dubbel standaarde van instansies soos die MRK (wie onder andere onlangs bevind dat Malema se aanstigting van volksmoord “klink na haatspraak, maar is nie haatspraak nie”) spreek boekdele van die ware toedrag van sake in SA sedert 1994.

Gedurende 2018 het die regering ook sogenaamde “haatspraak”-wetgewing aanvaar, wat grootliks gemik word teen kritiek, asook teen Christelike Woordverkondiging.

Onlangs is die daarstel van ʼn sogenaamde “snel reaksie meganisme” bekend gestel – algou is dit in die pers “rassisme polisie” gedoop.

Dit verg geen besondere talent om te voorsien wie deur hierdie instansie geteiken gaan word nie …

Vir enige welbelese persoon sal hierdie aankondiging beelde van George Orwell se 1984 oproep:

die sogenaamde denke-polisie in daardie verhaal se doel is om kritiese denke te onderdruk, net soos die ANC ter plaatse selfs ons geloof en kultuur wil kriminaliseer.

Hierdie blatante aanslae kan egter spoedig geïdentifiseer word en, terwyl ons omsigtig moet wees in ons eie uitsprake, kan ons sulke aanslae ook met redelike gemak bestry, of dan minstens aan die kaak stel.

Die meer dodelike kant van haatspraak (en by implikasie ook rassehaat teen ons volk) is liberaal-humanistiese paai-uitsprake waarmee al meer en meer mense uit (voormalig) eie kring steeds probeer om ʼn sogenaamde “middelgrond” te beding met die regime en rolspelers binne die “nuwe” strukture.

Dit is diegene wat graag agrumente opper soos “moenie die jongmense straf vir hul ouers se foute nie” – eerder as om rassediskriminasie onbeskroomd af te keur.

Dit is diegene wat opsluit “oplossings” soek binne raamwerk van die bestaande bedeling; die naakste haat is dan “begrypbaar” en ons moet net nóg meer doen om die verlede te versoen.

Dit is veral diegene wat (skyn)heilig saampraat wanneer Christene as “fundementalisties” bestempel word – ons moet dan sogenaamd “modern” dink oor sake van geloof en beginsel.

Dít is die ergste haatspraak, omdat dit ons nuwe geslag jongmense opnuut verlei en bloot daarop uit is om nóg ʼn geslag van ons volk met valse skuldgevoelens op te saal.

Dít moet ons met alle mag beveg!

Enkele laaste gedagtes:

Enige van ons kan nie anders as om warm onder die kraag te word indien ons hierdie dubbel-standaard aanslae waarneem, of selfs beleef nie.

Nogtans moet ons versigtig let om ʼn wag voor ons eie mond te plaas.

Ons is draers van ʼn edel kultuur, en ons moet dit elke dag uitleef – veral teen hierdie haat-aanslae moet ons duidelik en onbeskroomd standpunt inneem, maar met feite en met opgevoede taalgebruik.

Dit gaan uitsonderlike geduld verg, maar dit sal aan ons kinders die regte voorbeeld stel;

dit sal ook aan ons vyande oor tyd aanhou wys dat barbarisme nooit ʼn edel kultuur kan oorweldig nie!