Motor rubriek – Volkswagen Golf GTI

Sekerlik een van die bekendste Volkswagens, en dit mag beskryf word as die mees ”geliefde” en die ikoon van die Volkswagen produkte wat op die pad te sien is, is die blitsbuks GTI.

Volgens inligting wat in die pers verskyn en foto’s wat vertoon word gaan dit ‘n indrukwekkende voertuig wees. Van voor gesien is die boonste gedeelte van die sierrooster ‘n smal strook luginlaat wat beklemtoon word deur ‘n smal rooi streep met die GTI embleem aan die linkerkant. Die onderste gedeelte van die sierrooster met die luginlaat lyk soos die spreekwoordelike heuning koek. Langs dit, aan weerskante is die LED dag en kolligte gepas en die enjinkap pas weer netjies op die voorste modderskerms.

Van voor langs die kant bekyk is die wielboë uitgebou en die twee kleur allooi wielnawe pas in met die nodige plek vir artikulasie van die wiele. Deur die openinge in die wielnawe word die skyfrem knypers in rooi afgebeeld en dit verseker dat die blitsbuks met veiligheid tot stilstand gebring kan word.

Van agter gesien word die twee uitlaatpype dadelik opgemerk en weet ‘n mens die 2 liter, EA888 turbo aangejaagde, petrol kragbron sal kan “asemhaal” en daar sal van maklik van die verbrande petrol gasse ontslae geraak kan word. Daar kan ook aanvaar word dat die Volkswagen ingenieurs verdere ontwikkelings werk aan die enjin sal doen om die maksimum werkverrigting uit dit te haal. Daar kan ook aanvaar word dat die maksimum snelheid beperk sal word op 250 km/u.

Die geronde boustruktuur aan die agterkant verseker dat die sleurkoöffisient tot die minimum beperk word. Soos aan die voorkant is die GTI embleem aan die linkerkant gepas en die VW embleem met die Golf naam tussen die “vaartbelynde” agterligte gemonteer.

Wanneer daar in die voertuig ingeklim word, kom ‘n mens dadelik onder die indruk oor die hoë standaard van afwerking van die motor. Jy skuif met gemak onder die stuurwiel in want die onderkant het ‘n plat gedeelte en op die stuurwiel self is verskeie beheer skakelaars aangebring om die toerusting mee te beheer. Die instrumente is voor die bestuurder gemonteer en is duidelik leesbaar deur die boonste gedeelte van die stuurwiel. Die aanraakskerm is in die middel van die instrumentpaneel gemonteer en ook die ander toerusting is binne maklike bereikbare afstand van die bestuurder en sy voorste passasier.Die sitplekke omvou en stut ‘n mens se liggaam op die regte plekke en met die verskillende verstellings is dit moontlik om ‘n “sitkamer” gemaklike sit posisie in te neem. Die merk 8 GTI het soos sy voorganger genoeg sitplek vir al die insittendes. Daar is selfs genoeg plek vir die passasier op die agterste sitplek met lang bene. Uiteraad moet ‘n mens aanvaar dat dit nie ‘n baie groot bagasieruimte te het nie dit is aanvaarbaar.

Daar kan aanvaar word dat hierdie motor ‘n motor van formaat gaan wees en dat die padgedrag en werkverrigting van ‘n standaard gaan wees wat elke Golf liefhebber se “hartsnare” gaan aanraak. Tegnologies sal dit van hoogstaande standaard wees en persoonlik sien ek self daarna uit en sal dit self graag onder hande wil neem.