Motor rubriek – Mitsubishi Triton

Sedert Mitsubishi die eerste keer bekend gestel is in SA het dit ‘n reputasie opgebou van betroubaarheid en jy noem dit en dit is daar. Selfs op die renbane van die wêreld het dit bekendheid verwerf met suksesse.

Die heel nuutste Triton vir 2019 wat bekendgestel is, gaan sekerlik aan al die nodige vereistes voldoen. Dit is beskikbaar in 4×2 en 4×4 formaat en die aanduidings is reeds daar dat beide modelle gewild gaan wees. Hierdie bakkie is bykans gelykstaande aan ‘n motor.

Daar is verskeie veranderings aangebring aan die vorige model. Daar is nou sewe lugsakke geïnstalleer, die sleep vermoë is aansienlik verbeter, ‘n nuwe ses spoed outomatiese ratkas is gepas, die agterste skokbrekers is vervang met swaardiens skokbrekers, die spesifikasies vir die gebruik op ruwe terrein is aangepas en die buite-afwerking skep die indruk dat dit robuust is maar in werklikheid is die stilering meer modern van aard.

Daar is aanpassings gemaak aan die 2,4 liter, dubbel oorhoofse nokas, 16 klep, turbo aangejaagde diesel, MIVEC kragbron wat dit instaat stel om in plaas van ‘n sleep vermoë van 1500 kilogram te hê kan dit nou ongeveer 3000 kilogram verskuif. Die ses spoed outomatiese ratkas maak gebruik van ”fuzzy logic” rekenaar tegnologie en dit verseker dat elke bestuurder van hierdie voertuig kan sy eie bestuurstyl toepas. Die krag wat hierdie enjin beskikbaarstel by 3500 o.p.m. is 133 kW en die wringkrag is 430 Nm teen 2500 o.p.m.

Die brandstof houer se grootte is 75 liter en die vervaardiger maak daarop aanspraak dat die 4×2 se brandstofverbruik is 7,5 l/100 km en die 4×4 model se brandstofverbruik is 7,6 l/100 km. Die vrag dravermoë is 950 kilogram en die grondvrye hoogte is 220 mm.

Soos reeds genoem is die buite aansig van die voertuig iets om te waardeer. Aan die voorkant vorm die stamper deel van die voorste modderskerms met die kolligte, flikkerligte en hoofligte wat ook deel vorm van die stamper. Die enjinkap se afwerking en bouvorm is van so ‘n aard dat die wind weerstand tot die minimum beperk word. Wanneer daar om die voertuig beweeg word en dit word van agter bekyk, laat die Mitsubishi kenteken aan die agterkant geen twyfel wat se voertuig dit is nie.

Wanneer in die voertuig ingeklim word, kom ‘n mens dadelik agter dat hierdie ‘n voertuig van formaat is en dat daar nie afskeep werk gedoen is nie. Die bestuurder se sitplek is elektries verstelbaar en die handrem is direk langs die bestuurder se sitplek gemonteer sodat die bestuurder goeie beheer kan uitoefen oor die remme. ABS remme met skyfremme op die voorwiele en dromme op die agter wiele sorg dat die voertuig met veiligheid tot stilstand gebring kan word. Die veerstelsel is onveranderd gelaat, behalwe soos reeds genoem, die agterste skokbrekers. Reg voor die bestuurder is die instrumente gemonteer wat duidelik leesbaar is deur die boonste gedeelte van die stuurwiel se speke. Op die stuurwiel self is verskeie skakelaars aangebring vir beheer van die toerusting. ‘n Skakelaar gemerk “Off-Road” stel die bestuurder instaat om verskillende kiesings te doen om byvoorbeeld in modder, sand ensovoorts te kan ry. Mitsubishi se “Super Select” 4×4 aandrywing en kiesing van die 4H rat kiesing stel die beperkte glip ewenaar, middel gemonteerde ratkas in werking en dit verdeel die krag 40:60 tussen die voor en agter wiele. ‘n Ewenaar slot is egter nie beskikbaar op die 4×2 model nie maar remming teen ‘n skotige afdraande word verskaf in die 4×4 voertuig.

‘n Aanraakskerm, lugversorger, radio, sleutellose toegang tot die voertuig, ‘n truspieëltjie wat self domp, outomatiese sluitstelsel vir die deure en nog talle ander toerusting maak deel uit van die gerief.

Vir die agterste passasiers is daar meer as genoeg beenspasie en ‘n gemaklike sit posisie kan ingeneem word.

Hierdie is ‘n “werk esel” maar dit is ook luukse vervoer middel en indien u in die mark is vir ‘n bakkie kan u gerus u naaste Mitsubishi handelaar besoek en dit vir ‘n toetsrit neem.